MBOMBELA – Drie inwoners van Acornhoek wat aangekla word van moord en veediefstal het Donderdag vlugtig in die Nelspruit Streekhof verskyn en die saak is tot 7 April uitgestel.
Mnr. Pleasure Ngobeni (20), mnr. Solly Bedwell Zitha (38) en me. Ilinah Magagulah (43) word daarvan aangekla dat hulle op 23 Desember 2009 van me. Vhamija Tibane se vee gesteel het. Laevelder het vroeër berig dat Ngobeni, Zitha en Magagulah daarna die 73-jarige slagoffer na bewering met ‘n graaf doodgeslaan het en nou aanklagtes van aanranding, roof met verswarende omstandighede, opsetlike saakbeskadiging en moord in die gesig staar.
Die slagoffer is tydens hierdie beweerde aanranding ernstig beseer en het later aan haar wonde beswyk.
