Oud polisie-egpaar vertel hoe hulle die dood vryspring tydens roof
"Die mans het aanhoudend geskree: 'We are killers, we are killers,' en oor en oor gesê hulle gaan ons skiet"

ELANDSHOEK – “Ek het die woord plaasaanval voor my sien flits en toe trek hulle die snellers.” Só het oud-kolonel Ansie Joubert (57) gister vertel van die angswekkende oomblikke toe ‘n groep van ses gewapende mans haar en haar man, Joep (58), Vrydagaand oorval het. Die skote het nooit afgegaan nie, maar die bebloede toneel by hul huis sowat 40km buite Mbombela op die N4 naby Elandshoek, is stille getuienis van waardeur die egpaar moes gaan.
Joep is self ‘n voormalige stasiebevelvoerder van Mbombela.
Die egpaar het vroeër die dag van ‘n seevakansie teruggekeer en Ansie was in die slaapkamer besig om tasse uit te pak toe twee gewapende mans die ruit uitgeslaan en vuurwapens op hulle gerig het. Joep het enkele oomblikke vóór dit op die bed gaan lê. “Die mans het aanhoudend geskree: ‘We are killers, we are killers,’ en oor en oor gesê hulle gaan ons skiet,” het Ansie gister aan Laevelder vertel. Die onderhoud het buite ‘n kerk in Mbombela plaasgevind waar die egpaar vir berading gegaan het.
Joep vertel dat hy in daardie stadium gedink het hy staan ‘n kans weens die feit dat die skote nie afgegaan het nie. Hy het die duvet oor die een gegooi en ‘n wapen probeer afneem. “Ek het besef hulle het óf nie ammunisie nie óf hulle het bloot net nie die wapens gespan nie. Ek het besluit om te baklei.”
Die volgende oomblik het nóg vier mans die kamer binnegestorm. Joep vertel dat hulle op dieselfde tydstip as wat die slaapkamer se ruit uitgeslaan is, ook die studeerkamer s’n gebreek en toegang tot die huis verkry het. Vyf van die ses was gewapen. Die egpaar is onder andere met skoenveters en die waaier se koord vasgebind.
“Hulle het die wapen verskeie kere teen my keel en teen Ansie se kop gedruk en die sneller getrek. Daar was elke keer net ‘n klik,” vertel Joep. Ansie sê dit was vir haar die ergste. “Jy wag vir die dood. Jy wag elke keer vir daardie slag.”
Joep se seun Pieter, ‘n onderwyser by Laerskool Bergland, was ook in die huis en het die slag gehoor. Hy het na sy ouers se kamer gehardloop, maar die Trellidoor was gesluit. “Ek het vir hom geskree hy moet vlug en hy het daarin geslaag om weg te kom en die bosse in gehardloop,” vertel Joep.
Die aanvallers het Ansie na die badkamer geneem en sy het kliphard begin bid, met die wete dat die ergste dalk nog sou voorlê. “Ek het gedink hulle gaan my verkrag en ek het vir myself gesê dan gaan ek eerder dood. Ek het onophoudelik gebid. Hulle het my elke keer stil gemaak, maar ek het net sagter gebid. Ek het die Here gevra as dit sy wil is dat ek wel moet sterf, Hy my asseblief vir al my sondes moet vergewe.”
Joep is ook na die badkamer waar Ansie vasgemaak is gebring en in die bad geforseer. Die aanvallers het hulle hier toegesluit en met Pieter se Volkswagen Polo op die vlug geslaan. Hulle het slegs ‘n televisiestel, kontant, en ook die egpaar se geliefde hondekind, ‘n vier maand oue pug, gesteel.
Ansie kon daarin slaag om haar los te wikkel en het Joep, wat verskeie snywonde van die gebreekte glas aan sy hande opgedoen het, losgemaak. Pieter het teruggekeer na die huis die oomblik wat die aanvallers die perseel verlaat het. Die egpaar het hul dank teenoor die Bossies Community Justice, die Ngodwana-polisie, die Leeulopers en al hulle vriende vir hul hulp en ondersteuning uitgespreek. “Niemand kan jou op iets soos hierdie voorberei nie. Die Here was ons net genadig.”
Die voertuig is dieselfde aand nog naby die huis teruggevind en daar word vermoed dat die aanvallers in ‘n ander voertuig vort is.




