MBOMBELA – Mnr. André Laubscher, wat onlangs opslae gemaak het toe hy in die vroeë oggendure in ‘n plaaslike gastehuis gearresteer is, staan nie meer alleen in die beskuldigdebank op al die aanklagte teen hom nie.
Mnr. Johan Cronjé – alombekend as “Panner”, word nou saam met Laubscher van crimen iniuria, intimidasie en diefstal aangekla. Cronjé het in 2013 hoofopskrifte in Laevelder gehaal toe hy by die Engen-vulstasie in Riverside deur mnr. Cat Smit aangerand is. Die aanranding is op kringtelevisiekameras vasgevang.
Kapt. Dawie Pretorius, woordvoerder van die Mbobela SAPD, het Vrydag bevestig dat hierdie klagtes teen die twee aanhangig gemaak is. “Hulle is reeds aangekla en moet op 22 April weer in die hof verskyn,” het Pretorius bevestig.
Laevelder het vroeër berig dat Laubscher op 12 Februarie 2015 gearresteer is nadat hy glo ‘n klaer en ondersoekbeampte in ‘n diefstalsaak teen hom geïntimideer het. Volgens sers. Gerald Sedibe, provinsiale polisiewoordvoerder, was dié klaer en ondersoekbeampte in die eerste van twee diefstalsake betrokke wat sedert 2011 oor Laubscher se kop hang. “Die eerste aantyging teen Laubscher is dat hy iemand se voertuig namens hulle sou verkoop het. Hulle het nie hul volle koopprys ontvang nie en dit blyk dat Laubscher toe die voertuig se onderdele stuk-stuk verkoop het.”
Lees ook:
Bekende in die hof op verskeie klagtes
André Laubscher vandag in die hof
Die tweede klag het uit ‘n beweerde voorval gespruit waartydens Laubscher ‘n trekker, wat hy namens ‘n kliënt sou verkoop het, in besit geneem het sonder om glo ooit die kooppys daarvoor te betaal.” Hierdie twee diefstalklagtes is aan die begin van 2015 weer teen Laubscher aanhangig gemaak.
Dit word beweer dat hy en Cronjé, wat nou saam met Laubscher van crimen iniuria en intimidasie aangekla word, na aanleiding hiervan die klaer en ondersoekbeampte met telefoniese dreigoproepe geïntimideer het. Laubscher het ook op 17 Maart in die Nelspruit Landdroshof verskyn, waartydens ‘n ander diefstalklag teen hom voorwaardelik teruggetrek is.
