Video: Dié siekte vervreem lyer van haar familie
"Ons is 'n aktiewe gesin, maar hierdie siekte het my 'n vreemdeling vir my familie gemaak, 'n buitestaander. Ek sien doodeenvoudig nie kans om meer enigiets saam met hulle te doen nie. Nou sien ek hulle amper nooit."
WITRIVER – Haar regterhand lê leweloos in haar skoot. Haar voete is pers van die uiterse swak bloedsomloop en sy kan haar eie rolstoel nie self beweeg nie. Om haar nek hang ‘n klossie afstandbeheerders en sakkies met die items wat sy gereeld nodig kry, soos ‘n selfoon. As hierdie goedjies nie binne bereik is nie, sal sy dit nie kan kry nie.
Mens sou nooit sê sy is dieselfde vrou wat elke dag in die gimnasium was en geweldig lief was vir voetslaanroetes nie. Sy is steeds lief vir die buitelug, maar die verste wat sy nou uit haar kamer kan beweeg, is maar die tuin van die sorgeenheid waar sy nou woon.
“Ek kan nie loop nie. Ek kan op my bene staan, maar nie vir lank nie. Ek kan nie myself opkry nie. As ek nou badkamer toe wil gaan, roep ek die suster met die afstandbeheer. En ek was altyd so aktief. Ons is ‘n aktiewe gesin, maar hierdie siekte het my ‘n vreemdeling vir my familie gemaak, ‘n buitestaander. Ek sien doodeenvoudig nie kans om meer enigiets saam met hulle te doen nie. Nou sien ek hulle amper nooit.”
Elaine Kaye (71) is in 2000 met meervoudige sklerose (MS) gediagnoseer. Selfs tóé het die dokter vir haar gesê hy kon aan die letsels aan haar senuwees sien dat sy die siekte al langer as 10 jaar gehad het.
Volgens Meervoudige Sklerose Suid-Afrika (MSSA) se webtuiste, is MS ‘n seldsame afwyking wat die omhulsel van die senuwees, wat uit miëlien bestaan, beskadig en só kommunikasie tussen die sentrale senuweestelsel (SSS) en die res van die liggaam belemmer.
“Die maklikste manier om te verstaan wat tydens MS gebeur, is om jou liggaam as ‘n elektriese stroombaan te sien, met jou brein en rugmurg as die kragbronne en jou ledemate en die res van jou liggaam as die elektriese toestelle,” het me. Non Smit, voorsitter van MSSA, gesê. “Jou senuwees is die elektriese kabels wat alles aanmekaar verbind en die miëlien is die isolasie om die kabels. Stel jou voor dat die isolasie beskadig raak. Foutiewe of temperamentele toerusting en ‘n moontlike kortsluiting, is die gevolg.”
Dit is nie oorerflik of aansteeklik nie en vroue met MS kan selfs kinders kry (alhoewel uiterse moegheid met MS gepaard gaan en die strawwe roetine van nuwe babas kan ouers met MS geweldig uitput).
“Ek het teen deurkosyne vasgeloop sonder om dit te kon beheer. My spiere het begin seerkry en ek het geweet dit was nie ‘n oefening wat ek by die gim gedoen het nie. Dié simptome het gekom en gegaan. Toe ek eendag weer gim toe gaan, kon ek my voete nie só ver oplig nie,” beduie sy met haar duim en wysvinger. “Dis toe ek besluit om dokter toe te gaan.”
Die dokter het haar na ‘n neuroloog, dr. Pieter Kritzinger, verwys. Kritzinger het motorneuronsiekte (MNS) in Joost van der Westhuizen gediagnoseer.
Haar man se vorige vrou is aan kanker oorlede. “Iets het vir my gesê, hy is nie bereid om na my te kyk nie en ek was reg. Hy wou toe dadelik ‘n egskeiding hê. Ek het toe by my kinders gebly en verder verswak. Ek kan eet, maar nie baie netjies nie. Ek is nou in my second childhood want ek dra nou weer doeke. Ek moes myself leer links skryf.”
Daar is nog geen kuur vir MS nie, maar navorsing het tot dusver gewys dat stamselle ‘n verligtende effek op die simptome kan hê.
“Ek drink nou maar net bloeddrukpille, spierverslappers vir my bene, slaappille en algemene vitamienaanvullings. Ek moet spierverslappers drink, want as hierdie been eers styf trek, is daar niks wat ek met hom kan doen nie.”
As daar een positiewe aspek van Elaine se beproewing is, is dit dat dit haar nader aan God gebring het.
“Dit help nie ons kla nie. Hy het ‘n plan. Iemand het een keer vir my gesê don’t run to the phone, run to the Throne. Dit is wat my dryf.”
Kyk die onderhoud met Elaine hier:
