LifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Bekende boer gooi handdoek in na hy grondbelasting betaal

Mnr. Theuns Moolman, wie se plaas deur ‘n grondeis opgeëis word, moes onlangs R60 051,13 aan TCM betaal voor hy die vereffeningsertifikaat kon ontvang.

LYDENBURG – Boere in die omgewing word gemaan om seker te maak van hulle maandelikse grondbelastingrekening by Thaba Chweu Munisipaliteit (TCM).

Mnr. Theuns Moolman, wie se plaas deur ‘n grondeis opgeëis word, moes onlangs R60 051,13 aan TCM betaal voor hy die vereffeningsertifikaat kon ontvang.

“Gedurende Augustus 2002 het ek ‘n waardasie laat doen van die plaas Uysedoorns 47 JT deur DJR , ‘n lid van die SA Instituut van Waardeerders. Die plaas se waarde het toe te staan gekom op R1 550 000. Die munisipaliteit gebruik sedert 2009 ‘n waardasiebedrag van R1 600 000 vir bogenoemde eiendom,” het Moolman vertel.

Die maandelikse belasting vir die tydperk Julie 2009 tot Junie 2010 soos deur die munisipaliteit bepaal, het R90,91 per maand beloop, dus R1 090,92 per jaar. Vir die tydperk Julie 2010 tot Junie was dit R1 850,16 per jaar, van Julie 2011 tot Junie 2012 was dit R1 747,20 per jaar, Julie 2012 tot Junie 2013 was dit R1 849,56 per jaar en van Julie 2013 tot Junie 2014 was dit R1 958,40 per jaar.

Hy vertel dat Valuers Africa opdrag van Thaba Chweu ontvang het om ‘n nuwe waardasie van die plaas te doen. “Dit het hulle gedoen deur ‘n Google Earth-waardasie van Uysedoorns 47 JT en het toe bepaal dat die nuwe waarde van die plaas R7 370 000,00 beloop. Die waardeerder van Valuers Africa het beweer dat die pad te sleg was Uysedoorns toe en daarom gebruik hy toe net die Google Earth-opsie.”

Hy verduidelik dat die finasiële bestuurder, mnr. Mike Mashilo vir hom gesê het dat die munisipaliteit dieselfde koers van 0,012270 van die vorige jaar gebruik, maar teen die nuwe waardasie-waardes.

“So vir die tydperk Julie 2014 tot en met Junie 2015 is dit R4 521,49 per maand, wat beteken dat dit vir die jaar R54 257,88 beloop. Tydens my uur lange besoek en gesprekke met Mashilo en sy assistent, is die uiteensetting hoe die bedrag van R4 521,49 opgemaak is, oor en oor aan my verduidelik. Vir elke R1 000 000, betaal jy R12 270 per jaar, vir R7 370 000 betaal ‘n mens R90 429,90 per jaar.

Gedeel deur 12 gee dit jou R7 535,83 per maand, minus die 40 persent korting wat tans nog van toepassing is en wat op R4 521,49 per maand te staan kom.”

Moolman moes noodgedwonge die R60 051,13 betaal om die vereffeningsertifikaat te bekom.

“Ek weet nie of boere met damme, lande, spilpunte, bosbouplantasies, wildsplase, gasteplase en ander enigsins besef wat hul reeds aan die munisipaliteit verskuldig is nie. Volgens die amptenare is dit miljoene der miljoene rande.

Vir my is dit die einde van my boerdery-pad. Aan die een kant hartseer, maar om uit ‘n weidingsplaas slegs met beeste en speenkalwers nog ‘n verdere R54 257,88 vir belasting aan ‘n bankrot en korrupte munisipaliteit te betaal, het my laat besef die einde is eenvoudig die beter opsie.”

Steelburger/Lydenburg Nuus het navrae aan TCM gerig en gevra of boere bewus is van die implikasies van die nuwe waardasies en of hulle enigsins daarvan in kennis gestel is. Die koerant wou ook weet of dit aanvaarbaar is dat Google Earth gebruik word as geloofwaardige waardasie van ‘n plaas.

Die finansiële bestuurder van Thaba Chweu, mnr. Lesley Mokwena het op navrae gereageer en gesê dat dit waar is dat lugfotografie gebruik is vir evaluasies en die munisipale eiendomsbelastingwet voorsiening daarvoor maak. “Ongelukkig was toegang tot die eiendom redelik belemmer, maar die waardasie sou dieselfde uitgedraai het. Die tariewe word uitgewerk per markwaarde van die eiendom, insluitend die land en verbeterings, vermenigvuldig deur die toepaslike tarriewe, minus die 40 persent korting vir plase.

“Dit is aanvaarbaar om lugfotografie te gebruik, nie Google Earth nie, in terme van die munisipale eiendomsbelastingwet. Die waardasierol is in Februarie 2014 adverteer vir insae en besware en individuele kennisgewings is aan eienaars uitgestuur. Tot op datum het ons steeds besware ontvang en terugvoer gelewer.

Die munisipaliteit wag om te hoor van die appélraad om die appélle te finaliseer. Die datum daarvan sal bekendgemaak word. Ons ondervind tans kommunikasieprobleme met die boere, grootliks as gevolg van verkeerde of onvolledige adresse. Om dit reg te stel, sal die munisipaliteit ‘n spesiale vergadering met al die boere in die munisipale regsgebied belê vir openbare deelname vir beide die waardasierol en die begrotingstarriewe.”

Daar word ‘n beroep op boere gedoen om hulle van hul munisipale rekeninge te vergewis.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button