MBOMBELA – Sondag was Moedersdag – ‘n pynlike dag vir me. Vicky Knoesen (22) – wie se babatjie vroeër hierdie jaar in Barberton Hospitaal dood is, skaars twee ure na sy geboorte.
Sy was maar 23 weke swanger toe haar seuntjie, Lihan van der Westhuizen, gebore is. Sy glo vas personeel by die hospitaal is vir haar kindjie se dood verantwoordelik. Solidariteit Helpende Hand het verlede week sy regspan opdrag gegee om die voorval te ondersoek en sal dan, afhangende van die bevindinge, moontlik ‘n siviele eis instel.
Laevelder se susterspublikasie, Barberton Times, het berig dat Knoesen op 1 Februarie geboortepyne ervaar het.
Lees: Mother accuses hospital of negligence
Dit het vantevore gebeur en sy is na die hospitaal waar sy ‘n inspuiting toegedien is om kraam te verhoed. “Die pyn was egter onuithoudbaar. Ek is pille soortgelyk aan Panado gegee en huis toe gestuur. Die dokter het gesê as die sametrekkings nie verminder nie, moet ek terugkom,” het Knoesen nog vertel.
Die pyn het deur die nag vererger en sy is die volgende oggend terug hospitaal toe. ‘n Dokter daar het gevind dat sy nog nie ontsluit het nie en het haar ‘n inspuiting vir die pyn gegee. Hy het genoem dat dit lyk of sy ‘n miskraam het, maar het haar glo niks gegee om die sametrekkings te stop nie. “Ek is toe na ‘n ander dokter gestuur vir ‘n sonar en hy het gesê dat alles ‘reg’ lyk.”
Die pyn het net erger geword en Knoesen is in die vroulike chirurgiese saal opgeneem. Sy is later daardie middag na die badkamer en kon die baba in haar geboortekanaal voel. Sy het dadelik ‘n verpleegster in kennis gestel wat haar beveel het om terug na haar bed te gaan.
“Ek het terug na die badkamer gegaan waar ek gebid het. Hulle het my teruggeroep en selfs gevra of ek werklik swanger was,” het Knoesen gesê. ‘n Dokter is ontbied en het haar inwendig ondersoek. Sy is daar weg en het die verpleegsters opdrag gegee om haar te skakel as die baba gebore is. Sou hy meer as 500 gram weeg, sou sy hom dalk kon red.
“Ek moes net daar geboorte skenk in die saal. Die susters het my glad nie gehelp nie. Ek het op ‘n stadium my bewussyn verloor van die pyn, maar het besef ek moes druk, anders sou my baba doodgaan.”
Lihan is gebore en Knoesen kon hom hoor snak na asem. Die dokter het gekom, hom in ‘n kombersie toegedraai en weggeneem. Hy is twee ure later oorlede. “Hy het 650 gram geweeg. Die dokter het gesê sy het alles in haar vermoë gedoen om hom te red.”
Knoesen het vertel hoe sy daardie aand op bloeddeurdrenkte beddegoed moes slaap. Haar ma, me. Annelie Naudé, het geskok vertel dat personeel haar later gevra het of hulle Lihan se lykie wou hê. Hy is in ‘n rooi plastieksak toegedraai en glo in ‘n vertrek saam met ander vullis gelos. Lihan is later veras en sy as in ‘n familiegraf in Heidelberg begrawe.
Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het by navraag gesê dat hulle die saak gratis namens Knoesen behartig en dat adv. Jacques Basson en prokureur mnr. Tertius Kruger van Hurter Spies Ingelyf haar reeds verlede week besoek het. “Helpende Hand se visie is om kinders te beskerm. Ons hanteer hierdie saak om sulke hartseer in die toekoms moontlik te voorkom,” het hy gesê.
Knoesen sê haar wonde is nog rou en die Here sal bepaal of sy nog ‘n kind sal hê. Sy het Sondag op haar Facebook-blad geskryf: “Gelukkige moedersdag vir al die mammas wie se kindertjies op Jesus se skoot sit. Hulle se jy is die beste mamma en hulle is so lief vir jou, al het jy hulle vir ‘n kort tydjie gehad. Al was dit vir ‘n paar weke in jou maag, ‘n paar uur in jou arms of vir ‘n paar jaar in jou lewe. Ons sal hulle nooit vergeet nie. Ons het iets perfek gemaak en hulle is gepluk om in Jesus se tuin te blom. Jesus gee ons elke dag krag om aan te gaan. Dankie my Koning!”
