Huiseienaars in Marble- en Grosskopfstraat in West Acres sê hulle kan die allerlei onwettige bedrywighede wat na bewering in die openbare parkie gepleeg word, nie meer verduur nie.
Die parkie wat vroeër jare ‘n veilige speelarea vir kinders in die gebied was, is nou glo ‘n broeiplek vir twyfelagtige gedrag onder boemelaars en partytjiegangers. Volgens een inwoner, me. Nicolene Potgieter, is daar mense wat oor naweke daar parkeer en hulle rommel daar los.
“Hulle speel harde musiek en steur die meeste van die inwoners in die area.
Bottels en papiere lê daarna die hele parkie vol. Dit maak dit ook vir my onveilig as daar gedurig motors daar parkeer staan,” noem sy.
Nog ‘n kommerpunt vir inwoners is dat daar geen maatreëls in plek is om karre te verhoed om daar te parkeer nie. “Daar is geen paaltjies wat hulle keer nie en ons sit nou al lank met die probleem. Daar word ook bourommel gestort.”
Volgens Mbombela SAPD se woord-voerder, kapt. Dawie Pretorius, is daar geen klagtes gelê waarvan hy bewus is nie. Teen druktyd het Mbombela Plaaslike Munisipaliteit nog nie terugvoer rakende die situasie verskaf nie.
