Hard newsNewsNews

Beweerde prokureurnalatigheid lei glo tot R1 mil skikking

"Ons bevestig dat ons nie voortgaan met die dagvaarding nie en dat die klagtes teen die prokureur by die prokureursorde teruggetrek sal word." - Mnr. Richard Spoor.

TSHWANE – Die siviele saak teen mnr. Johann du Preez, ‘n plaaslike prokureur wat deur sy voormalige kliënt vir meer as R1 miljoen gedagvaar is na sy beweerde nalatigheid, is Maandag buite die Noord Gauteng Hoë Hof geskik.

Die eiser, me. Jacoba Wilhelmina Marais, ook bekend as Wilma, het Du Preez van die firma Kruger en Vennote Ingelyf aangestel om haar by te staan met die bereddering van haar oorlede man, mnr. Johannes Stephanus Marais, se boedel. Wilma, die enigste erfgenaam, sou die eienaar van 2 184 aandele in SA Golden Leaf word, ‘n maatskappy waarvan Du Preez ook regsverteenwoordiger was.

Sy het volgens haar hofstukke in Januarie 2012 ‘n aanbod vir die aandele van mnr. Francois de Villiers Kok af ontvang. Wilma het met Du Preez in verbinding getree om regsadvies te bekom. Volgens haar dagvaarding wat teen Du Preez en die regsfirma uitgereik is, het hy haar geadviseer dat R40 per aandeel ‘n billike koopprys was en haar bygestaan in die opstel en ondertekening van ‘n koopkontrak, waarvolgens Kok ‘n totaal van R87 360 vir die aandele betaal het.

Du Preez het op 2 Februarie een van die maatskappy se direksievergaderings bygewoon waartydens magtiging vir die transaksie verkry is. Die besonderhede van Wilma se eis dui daarop dat SA Golden Leaf op daardie stadium besig was om sy bates te gelde maak met die oog daarop om die winste onder aandeelhouers as dividende uit te betaal. Die maatskappy sou daarna deregistreer.

Die markwaarde van een aandeel in SA Golden Leaf was op daardie stadium omtrent R500. Die aandele wat teen net meer as R87 000 verkoop is, kon vir Wilma R1 092 000 in die sak gebring het. Volgens haar dagvaarding sou sy hierdie koopprys kon vra as ‘n ander lid van die maatskappy haar aandele wou koop.

Sy wou Du Preez aanspreeklik hou vir die verlies in inkomste wat sy hieruit gely het en het gemeen dat hy nalatig was dat hy haar nie behoorlik geadviseer het nie. Sy het aangevoer dat Du Preez kennis moes dra van die waarde van die aandele toe hy haar geadviseer het met die opstel van die koopkontrak waarvolgens Kok die aandele gekoop het.

Du Preez is vir meer as R1 miljoen se skadevergoeding gedagvaar en by die prokureursorde verkla. Daar is versoek dat hy van die rol geskrap word weens, die “onbehoorlike, oneerlike en onprofessionele optrede”, soos wat Wilma dit beskryf het. Du Preez het gereageer deur vooraf kennis van die aandele se markwaarde van R500 te ontken. Hy het ook gesê dat hy haar gemaan het om versigtig te wees met die verkoop daarvan en dat sy die koopkontrak tussen haar en Kok volgens haar instruksies opgestel het. Du Preez se regsverteenwoordiger, mnr. GP Venter, het ook ‘n brief geskryf waarin hy namens sy kliënt R3 miljoen skadevergoeding van Wilma geëis het vir naamskending. Die brief het gestipuleer dat, as die R3 miljoen nie binne 10 dae betaal word nie, aksie teen haar ingestel sou word.

Die eis teen Du Preez sou verlede Maandag aangehoor word, maar hy en Wilma het besluit om te skik. “Me. Marais, mnr. Du Preez en Kruger en Vennote het tot ‘n vergelyk gekom. Die inhoud van die skikkingsooreenkoms is vertroulik, maar ons bevestig dat ons nie voortgaan met die dagvaarding nie en dat die klagtes teen Du Preez by die prokureursorde teruggetrek sal word,” het mnr. Richard Spoor, Wilma se regsverteenwoordiger, gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button