Rusoord kan aanbeveel word, sê eerste intrekkers
Volgens hulle was Lydenburg sedert hul aftrede die dorp waar hulle hul inkopies en besigheid gedoen het.
LYDENBURG – “Ons voel tuis.” Só vertel Koos en Marietjie Winterbach, die eerste inwoners van die nuutgeboude wooneenhede by Rusoord-ouetehuis.
Dié egpaar, wat na aftrede vir 23 jaar op hul plaas in die Watervalsriviergebied gewoon het, het op 8 April hul nuwe gerieflike, goed ingerigte tuiste betrek.
Volgens hulle was Lydenburg sedert hul aftrede die dorp waar hulle hul inkopies en besigheid gedoen het. “Die dorp is nie vir ons vreemd nie, ons ken baie mense hier en daarom was dit ‘n maklike besluit om hier te kom woon,” vertel Koos.
“Ons is baie aanpasbaar, en almal hier by Rusoord is so vriendelik en ons is hartlik verwelkom en inwoners het kom help uitpak!” vertel die twee. Dit was ‘n goeie keuse om hier die volgende tydvak van hul leeftyd in te lei.
“Ek is nou rustig. Dit is gerustellend om hier te bly met die wete dat wat ook al gebeur, Jeanette (Kruger, bestuurder van Rusoord) net ‘n oproep ver is,” vertel Marietjie.
Die egpaar sê hulle kan met vrymoedigheid die wooneenhede vir voornemende kopers aanbeveel.
Belangstellendes kan Jeanette Kruger by 082-579-2962 skakel.
