Editor's choiceLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

Vriendinne gee hupstoot om Dian se nuwe insulienpompie te koop

Dié toestel is permanent aan sy lyfie gekoppel en dien weliswaar as sy pankreas.

LYDENBURG – Dit is waarvoor vriende daar is – om jou te help in nood, by te staan en te ondersteun – en dit is presies wat Rika Saayman en haar vriendinne gedoen het deur pannekoek te bak en só geld vir ‘n vriendin se seuntjie in te samel wat ‘n diabeet is.

Dian Jansen van Vuuren (5) is op drie jaar met die siekte gediagnoseer en hy is tans afhanklik van ‘n pompie om insulien in sy are te spuit. Dié toestel is permanent aan sy lyfie gekoppel en dien weliswaar as sy pankreas.

Volgens Dian se ma, Danita, wil hulle graag vir hom ‘n meer gevorderde pompie koop wat soveel meer as die huidige een kan doen en wat sy suikervlakke self kan reguleer.

Danita se vriendinne het ingespring en verlede Vrydag voor Longtom SUPERSPAR pannekoek gebak en kon sodoende R2 500 vir die nuwe toestelletjie insamel.

Danita vertel dat die nuwe pompie R31 000 kos om die oue in te ruil. “Die Here was goed vir ons, soveel so dat ons nog net R5 000 nodig het vir die nuwe een!”

Tans moet sy Dian voor elke ete ekstra insulien inspuit om sy suikervlakke te beheer. Sy vingertjies moet soms tot 14 keer per dag geprik word. Snags moet sy elke twee uur opstaan dat sy vlakke gemonitor word en die pompie aansit indien sy suiker daal of verhoog.

‘n Hoë suikervlak beskadig mettertyd sy organe en ‘n te lae een kan hom in ‘n koma laat verval. Die nuwe pompie het ‘n sensor wat sy suikervlakke aandui. Dit kan ook self stop indien dit te laag is en weer aanskakel as dit na normaal terugkeer. Daarby is hy ook ‘n hemofilie-lyer (bloeier).

Dian is vanjaar in gr. R by Klopkloppie Kleuterskool.

Ten spyte van sy siekte is Dian gewoond aan die pompie en gaan hy aan, vertel Danita. Enigiemand wat belangstel om die Jansen van Vuurens met die aankoop van die nuwe pompie te help, kan Danita by 071-686-6057 skakel.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button