Gesin neem afskeid van bekende en geliefde vrou
Me. Lala Steyn, een van die stigsterslede van Cheap Cheap-slaghuis, is op 8 Junie oorlede
BURGERSFORT – Me. Lala Steyn, een van die stigsterslede van Cheap Cheap-slaghuis, is op 8 Junie oorlede. Steyn en haar man, Ferdinand was sedert 1978 die oorspronklike direkteure van die slaghuis.
“My ouma, Lala Steyn, is in 1931 op die familieplaas Vyehoek buite Ohrigstad gebore. Sy het haar skooljare op Ohrigstad en later in Lydenburg voltooi, waar sy toe ook my oupa, Ferdinand Steyn, ontmoet het. Hulle is op 26 Junie 1954 in die ou Potgietersaal getroud. My ouma was vir ‘n paar jaar ‘n onderwyser by Ohrigstad Laerskool en daarna het sy saam met my oupa vele besigheidsondernemings bestuur, insluitend Cheap Cheap-slaghuis,” vertel me. Lari Visser, Steyn se kleindogter.
Steyn laat haar twee dogters, Regina en Wilri, twee skoonseuns Rodger en Elmo, ses kleinkinders en sewe agterkleinkinders agter. “Ek onthou haar aanhoudende gebede vir ons familie. Sy was langs ons met elke tree,” voeg Visser by.
Sy vertel dat hulle haar baie gaan mis. “Ons wil dankie sê aan almal wat ons in hul gebede gedra het tydens die moeilike tydperk en ook vir elke drukkie, oproep, boodskap en glimlag.
Vir dr. Visser en sy vrou, Marina, wil ons ook baie dankie sê en vir elkeen wat haar begrafnis op 16 Junie in Ohrigstad bygewoon het.
