Dieremishandeling neem toe in Barberton
"Dit is en bly onwettig om ‘n vuurwapen, selfs ‘n windbuks in 'n beboude gebied af te vuur. Indien jy jouself daaraan skuldig maak om jou kind toe te laat om dit te doen, wees verseker dat ons die saak nie daar sal laat nie.”

“Die kwessie rondom troeteldiere wat vergiftig, geskiet of gesmous word in Barberton word maar net nie beter nie,” sê Marcelle Hoffman, voorsitter van Barberton se DBV.
Sy het Saterdag inligting van ‘n man ontvang wat besig was om hase voor Pick n Pay te verkoop. “Ek het onmiddellik daaraan aandag gegee en hom wel daar opgespoor, voor die winkel met die hase in ‘n hok op sy fiets,” het Hoffman gesê.
Daar is beslag gelê op die hase en Dinsdag het Hoffman die res van hulle by die man se huis gaan oplaai. “Dit is onwettig om diertjies te smous sonder ‘n lisensie. Ons het oneindig probleme in Barberton met mense wat nie verstaan hoekom hul diere gesteriliseer moet word nie. Dit is ‘n mentaliteitprobleem en dit voel soms of ons teen ‘n muur praat. Die mense hoor, maar wil nie luister nie.”
Sy vertel dat die hasies nie brandmaer was nie, en dat daar wel blare in die hok was, maar dat hul toestand glad nie goed was nie. “Mense voer hierdie hasies lewendig vir hul slange, en gebruik die diertjies, asook katjies as bait om hul honde te leer jag. Dit is ongelooflik wreed en ons sal dit nie duld nie.”
Ongeveer ‘n week gelede het sy ‘n hoërskoolseun voor stok gekry toe sy hom met sy windbuks in die dorp betrap het. “Alhoewel sy ouers my verseker het dat hy besig is om die ape te skiet wat die troeteldiere pes, het ek geen bewys daarvan nie. Daar is wel ontelbare gevalle waar veral katte met windbukse geskiet word. Dit is en bly onwettig om ‘n vuurwapen, selfs ‘n windbuks in ‘n beboude gebied af te vuur. Indien jy jouself daaraan skuldig maak om jou kind toe te laat om dit te doen, wees verseker dat ons die saak nie daar sal laat nie.”
‘n Ander inwoner van Barberton, Charmain Vosges, vertel dat daar iemand in die omgewing van Boekenhout-, Soetdoring- en Knoppiesdoringstrate is wat katte vergiftig en met ‘n krysboog skiet. “Twee weke gelede is my mooi groot gemmer-en-wit kat dood – wie ook al my kat doodgemaak het, weet dat ‘Noenoes’ iemand se katkind was. Ons 21 maand oue seuntjie gaan staan steeds by die venster en vra: ‘Waar Noenoes’?”
Sy sê dat hierdie mense nie kan of wil verstaan dat diereliefhebbers se troeteldiere soos hul kinders is en dan so wreed uit hul lewens geruk word nie. “Ek het ook die apies meer as ‘n jaar laas by ons gewaar en sal graag wil sien dat Barbertonners meer bedag sal wees op individue wat hierdie wrede dinge aan ons diere doen. Gee asseblief enige inligting aan die DBV deur sodat hierdie gedrag gestop kan word,” sê Vosges.
Die hase is tans in Hoffman se sorg. Hulle gaan gesteriliseer word en sal vir aanneming opgegee word. “Indien jy enige inligting het oor dieremishandeling, kontak Hoffman by 082-825-1505.
