BusinessHard newsInternationalNewsNews

Landman: Dis ‘n kwessie van tyd voor Afrikaners vir die ANC begin stem

Die politieke analis en skrywer JP Landman was die gasspreker tydens die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se onlangse Mpumalanga kongres.

MBOMBELA – Die frustrerende rompslomp waarin besighede verstrengel kan raak is op sy beste maar ‘n uitdaging, maar regulasies moet nagekom word. Dit was die boodskap van die politieke analis en skrywer JP Landman tydens die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) se provinsiale kongres. Hy was op 25 Junie by Umbali die hoofspreker.

Landman het aan die hand van die kongresgangers se gekose onderwerpe gepraat, en met dié besigheidsmense in gesprek getree oor die uitwerking wat kwessies soos Eskom, die land se balansstaat en swart ekonomiese bemagtiging op besigheid het.

“Suid Afrika se probleme is nie maklik nie, en die oplossings is nie eenvoudig nie,” sê Landman. Hy is nie onsimpatiek teenoor die uitdagings nie, maar wat kan omtrent wetgewing gedoen word, behalwe om daarbinne te werk?

“Het ons 20 jaar gelede die geleentheid aangegryp en swart verskaffers gaan kweek? Is ons dus nou verbaas dat daar ‘n wet is? “Tog is dit moeilik as jou gastehuis leeg staan, omdat minder mense oor die grens kom as gevolg van die nuwe vereistes met geboortesertifikate.

Hy is selfs positief oor die politiek. “Ek is ‘n geweldige groot ondersteuner van Jacob Zuma. Ek dink hy is ‘n fantastiese ding vir die land op die oomblik.”

Hy verduidelik dat hy dink Zuma sal vir die ANC doen wat Botha vir die Nasionale Party gedoen het: ‘n aardskudding in the party teweegbring en die party verander. Hy dink Zuma sal, soos Botha destyds, die elite so verleë maak dat hy hulle vervreem om verandering te forseer. Hy trek interessante paralelle tussen die twee.

Volgens Landman het Zuma, soos Botha, beperkte opleiding en min begrip van die moderne wêreld. Zuma is, soos Botha was, stam-georiënteerd en ‘n meedoënlose politikus. Soos Botha, verstaan Zuma ook nie die ekonomie nie, maar beskik hy oor die intuïsie om dit in ander se bekwame hande te laat.

Landman is ook opgewonde oor die rol van die Economic Freedom Fighters (EFF) en Julius Malema om die ANC se ware kleure oor kwessies uit te wys. Hy verduidelik dat die minister twee jaar voor die verkiesing in 2014 in ‘n parlementêre debat nog gesê het die regering sal Artikel 25 van die Grondwet verander as hulle moet. Dié bepaal dat grond van eienaars onteien kan word, maar slegs teen redelike vergoeding.

Toe die EFF egter setels in die algemene verkiesing gewen het, en aangebied het om in koalisie saam met die ANC ‘n twee-derde meerderheid te gebruik om met hierdie artikel weg te doen, was hulle reaksie, “Nee dankie”. Wat die EFF dus gedoen het, is om die ANC-regering se beleid meer na die middel toe te forseer.

Landman waag ‘n voorspelling: “Ten minste een derde van die mense hier vandag sal binne twee verkiesings vir die ANC stem.”

Intussen is sy raad aan besigheidsmense om groter leierskapsrolle in hul onmiddelike gemeenskappe aan te neem. “Fokus op wat julle in die gemeenskap kan doen sodat dinge beter kan gaan, Julle het ‘n rol om te speel na binne toe.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button