Ammunisievonds lei tot man se inhegtenisneming
Waarskuwingstekens was reeds die vorige dag waarneembaar toe hy ernstige selfdoodneigings by die werk getoon het.
Bure en kollegas se bekommernis oor ‘n man se sielkundige welsyn het beide sy lewe gered én hom in die tronk laat beland vir die besit van ongelisensiëerde militêre ammunisie.
Die ammunisie is na bewering verlede week in ‘n huis gevind nadat die man se bure vir Bossies Community Justice (BCJ) gekontak het. Die polisie is ook ontbied en hulle moes dwang gebruik om by die huis in te kom. Die polisie het toe die huis deursoek en glo op militêre ammunisie in die man se klerekas afgekom.
Waarskuwingstekens was reeds die vorige dag waarneembaar toe hy ernstige selfdoodneigings by die werk getoon het. Sy kollegas het BCJ na sy huis gestuur waar hulle net betyds opgedaag het. Die man is in sy motor aangetref en wou homself klaarblyklik vergas. Hy was nog by sy volle bewussyn toe lede van BCJ hom uit die voertuig bevry het. ER24 het hom na die hospitaal gehaas waar hy vir die aand opgeneem is.
“Die man het ernstige persoonlike probleme en het seker net gevoel dat alles te veel geraak het,” het mnr. Jacques Meiring van BCJ gesê.

Volgens Meiring het die man homself vroeg Dinsdagoggend uit die hospitaal ontslaan en na sy huis teruggekeer. Dit was tóé dat sy bure weer vir BCJ gekontak het en gesê het dat hulle geen beweging in die huis opmerk nie. Die sekuriteitsmaatskappy het toe weer na sy huis gegaan, maar die man wou hulle nie inlaat nie.
“Nie vandag nie,” het hy aan hulle gesê.
Die man is in hegtenis geneem en het Woensdag in die Nelspruit Landdroshof vir die besit van ongelisensiëerde ammunisie verskyn.
Sy saak is tot 4 Augustus uitgestel.
