Hard newsNewsNews

Verskillende menings oor verbruikers se spandering tydens Innibos

My syfers vertoon slegter as dié van verlede jaar. Dit het egter niks met die fees self te doen nie. Dit is absoluut te wyte aan die slegte ekonomie. Verbruikers kry oral swaar. Ons sien regoor die land 'n daling in verkope

MBOMBELA – Die strop om verbruikers se nekke trek al nouer. Die brandstofprys bly styg, asook dié van elektrisiteit.

Kospryse styg ook gevolglik en hoewel amptelike syfers oor die afgelope Innibos se impak op die plaaslike ekonomie nog nie beskikbaar is nie, blyk dit dat verkope tog effe gedaal het.

Laevelder het met stalletjiehouers en plaaslike ondernemings gesels en die meerderheid is dit eens dat hul syfers effe slegter lyk in vergelyking met dié van verlede jaar.

Me. Marion Innis het klein oliebolle en gekrummelde sampioene by Innibos verkoop. “My syfers vertoon slegter as dié van verlede jaar. Dit het egter niks met die fees self te doen nie. Dit is absoluut te wyte aan die slegte ekonomie. Verbruikers kry oral swaar. Ons sien regoor die land ‘n daling in verkope,” het Innis verduidelik.

Sy het bygevoeg dat Woensdag en Donderdag se verkope by die fees maar yl was. “Ek het Saterdag egter ‘n rekordaantal verkope gehad. Die beste nóg tydens Innibos.

“Oor die algemeen lyk die syfer egter slegter as dié van vorige jare. Baie ander stalletjiehouers met wie ek gesels het, het dit beaam.” Sy het 150 kilogram se deeg vir oliebolle en 80 kilogram sampioene tydens die hele Innibos verkoop.
Mnr. Niel Horn het pizza-horinkies verkoop en me. Arenda Scholtz, klere en serpe.

Hulle albei het ‘n toename in verkope ervaar. “Ek het ‘n 20 persent toename in verkope gehad,” het Horn by navraag gesê. Scholtz meen haar verkope het met die helfte toegeneem. “Ek kon dit nie glo nie. Al die kliënte het egter opgemerk dat my pryse baie billik was,” het sy bygevoeg.

Me. Michelle Erasmus van Brewer’s Feast meen dat hulle minder klante as verlede jaar gehad het. Mnr. Michael Fredericks van Panarotti’s het saamgestem. “Dit was nie so besig tydens hierdie Innibos soos verlede jaar nie. Ons het gemiddeld gevaar. Interessant genoeg was Sondag besiger as die vorige dae.”

Mnr. Jonathan Hobkirk van Ocean Basket het bygevoeg dat sy verkope met 10 persent afgeneem het. “Ons was Sondag met middagete besig, maar het oor die algemeen minder voete tydens Innibos gehad.” Hy skryf egter die afname in wins ook deels toe aan ‘n onlangse prysverhoging.

Dalk speel ligging ‘n belangrike rol, want mnr. Fanie Coetzee van Upperdeck, glimlag breed na die afgelope Innibos.
Dié kuierplek is immers by Sonpark wat reg oorkant die feesterrein geleë is. “Ons verkope is met 25 persent op. Anders as vorige jare toe ons net Vrydae en Saterdae besig was, was ons hierdie keer elke aand besig.”

Hy het bygevoeg dat dit maar stil was gedurende die dag. “Dis omdat daar dan bykans geen parkering by Sonpark is nie. Ons gereelde klante bly ook dan eerder weg en 90 persent van ons kliënte is nuwe gesigte,” het hy bygevoeg.

“Ek moes Saterdagaand toegangsbeheer by die deure toepas. Baie feesgangers het na die afloop van die Jacaranda-konsert na ons toe gekom.”

Me. Bronwyn Eagle, ‘n bestuurder by Jock Pub & Grill, het dit beaam. “Ons was Saterdagaand besonders besig. Almal het hier kom draai vir die after party.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button