MBOMBELA – ‘n Plaaslike inwoner is woedend nadat ‘n dokter by Nelmed Medicross glo met verlof gegaan het sonder om hom in te lig dat hy positief vir malaria getoets het.
Mnr. Cobus Thomlinson was twee weke voor sy besoek aan die dokter in Mosambiek. Hy het siek begin voel en is op 18 Junie na die mediese sentrum vir bloedtoetse. Hy is gerusgestel dat as die dokter nie van hom laat hoor nie, hy nie bekommerd hoef te wees nie.
Hoewel Thomlinson daardie Vrydag deur die loop van die dag beter gevoel het en niks
van die dokter gehoor het nie, was hy daardie aand “baie siek”.
Hy het die volgende oggend Nelmed geskakel en die ontvangsdame het hom meegedeel dat ‘n verslag bevestig dat hy wel malaria het. Sy het aan hom gesê dat dit aan die dokter gestuur is terwyl dié met verlof was en “dat dit net hier lê”.
Dit het Thomlinson hewig ontstel. “Dit is harsteer dat die mediese veld se goeie naam met een voorval soos dié deur die modder gesleep word,” het hy vertel.
Hy wou egter nie sê wie die betrokke dokter was nie.
‘n Ander pasiënt van Nelmed wat Thomlinson se kommentaar op Facebook gesien het, het Laevelder laat weet: “Ek het in 2010 erge moegheid ervaar en is na ‘n dokter by Nelmed. Ek is vir ‘n reeks toetse gestuur, onder andere bilharzia. Ek het ‘n paar dae later teruggebel vir die uitslae en die betrokke dokter se ontvangsdame het my meegedeel dat alles normaal was. Drie maande later bel sy my egter en sê dat die dokter besig was om die uitslae te liaseer toe hy sien ek het wel positief getoets vir bilharzia. Ek was uit die veld geslaan. Drie maande later word my uitslae eers geliaseer en word ek eers in kennis gestel dat ek positief getoets het.”
Dr. Jan Joubert van Nelmed het op navrae gereageer: “Malaria is ‘n baie ernstige siekte en vir daardie rede neem dokters groot voorsorg om dit nie te mis nie en nog meer so in malaria-gebiede.
”Wanneer toetse dan gestuur word, word verskeie maatreëls gevolg om misverstande te voorkom. Die dokter maak seker dat hy die regte telefoonnommer het om die pasiënt nog dieselfde dag te bel, sou dit positief wees. Hy vra die pasiënt om hom te bel of om hom weer te kom sien indien simptome vererger, al was die toetsuitslae negatief.
Na-ure sal die laboratorium die dokter bel as die mikroskopie positief is of hy sal die pasiënt bel as hy nie die dokter kry nie. Op hierdie manier word misverstande beperk.”
Hy het egter nie gesê waarom Thomlinson nie geskakel en van sy toetsuitslae ingelig is nie.
