Fratsongeluk eis man se lewe
Die 26-jarige De Wet van der Merwe, wat die afgelope naweek tragies in die Komatirivier verdrink het, het gesterf terwyl hy een van sy passies uitgeleef het.
KOMATIPOORT -Dié seun van Dr Deon en Adrie van der Merwe van Gauteng, was ‘n groot visserman en het selfs tiervis uitgetrek. In sy beroep as konsultant in die gasvryheidsbedryf, het hy ook sy visvangkennis gedeel. Ten tye van sy dood was hy visvanggids by die Kloofzicht Lodge. De Wet was juis by die rivier om tiervis te vang.
Hy wou ‘n foto van homself op die rotse laat neem toe die ongeluk gebeur het.
Hy het gegly, vermoedelik sy kop teen die rotswand gestamp en sy bewussyn verloor. Polisieduikers het sy lyk dieselfde dag gevind.
De Wet, wat enkellopend was, het verlede week saam met twee van sy vriende in sy ouers se boshuis in Marloth Park deurgebring want die buitelewe was, volgens sy pa, nog ‘n voorliefde. Al het hy in Randburg grootgeword en ook ‘n tyd aan die Oosrand gebly, was hy lief vir die Bosveld.
Sy familie was vir hom baie belangrik en hy sou in die nabye toekoms oom geword het want sy ouer broer, Divan en dié se vrou, Minette, verwag hulle eerste baba.
Hy het glo vreeslik hierna uitgesien. Pa Deon het aan Corridor Gazette gesê dat sy seun se ander liefde verseker die Blou Bulle was.
Die Van der Merwes besit die huis in Marloth Park die afgelope drie jaar, maar het voorheen gereeld in die kontrei gekuier omdat die mense van die Onderberg die gesin na aan die hart lê.
‘n Grapkas volgens sy vriende, het De Wet onder almal se vel ingekruip en sy rustige, kalm geaardheid het hom baie gewild gemaak. Die oorweldigende reaksie op sy ontydige dood is bewys van juis hoe gewild hy werklik was.
Hy sal veras word en sy as sal in die Kaap, waar die meeste familie woon, oor die see gestrooi word.


