
MBOMBELA – Die bekende gesegde wat lui “as dit pap reën moet jy skep” het vroeër vandag letterlik betekenis gekry vir N4-verbruikers toe ‘n vragmotor tussen Alkmaar en Schagen sy vrag verloor het.
Dié vragmotor, wat nou wel nie meel vervoer het nie, maar vis, het volgens ‘n ooggetuie die pad byster geraak en sowat 20 000 visse oor die aarde gestrooi.
“Dit was aanvanklik net visse waar jy kyk, maar toe word dit net mense waar jy kyk,” het die bron, wat anoniem wou bly, met ‘n glimlag vertel. Volgens haar het bestuurders van voertuie wat onderweg was na Mosambiek en van dié (on)geluk te hore gekom het, hul voertuie afgetrek en vis in hul eie voertuie begin laai. “Hulle is omtrent met 1 000 visse daar weg,” het sy gesê.
Mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit, het dié voorval bevestig en gesê op die stadium blyk dit of die vragmotorbestuurder ‘n ongeluk wou probeer vermy toe hy in die proses sy vrag verloor het.
“Volgens inligting klink dit of ‘n minibus die vragmotor verbygesteek het en die bestuurder van die vragmotor gesien het die taxibestuurder gaan nie betyds in sy baan inkom nie. Die taxi het voor die vragmotor ingesny en die vragmotorbestuurder het deur die drade van ‘n boer se grond gebars,” het Grobler gesê.
Die vragmotorbestuurder is ongedeerd.
Volgens Grobler het die vragmotorbestuurder onmiddellik sy maatskappy in kennis gestel wat daarop besluit het om die beskadigde bokse vis aan omstanders te gee. Die onbeskadigde bokse is op ‘n ander vragmotor gelaai.
