Hard newsNewsNews

Vrou se soektog na biologiese ma kring uit

Dit is nie vir my om te verwyt nie. Sy is my ma en ek wil haar leer ken, haar net druk en sê ek is lief vir haar

MBOMBELA – ‘n Vrou van Pretoria is besig met ‘n landwye soektog na haar biologiese ma. Sy was maar ses maande oud toe sy by haar weggeneem is en het haar een keer weer gesien toe sy sowat ses jaar oud was.

Die soektog duur nou al enkele maande en het nog niks opgelewer nie. Volgens die Departement van Binnelandse Sake waar haar ID-nommer nagegaan is, is sy egter nié dood nie.

Me. Theresa Chowles (42) het ‘n inskrywing onder “Soek na persone” op Facebook geplaas. ‘n Vriendin het intussen die inskrywing na verskeie koerante oor die land gestuur en dit het só onder Laevelder se aandag gekom.

Lees ook: Seun spoor biologiese ma op

Chowles se biologiese ma is me. May-Evelyn Brits, met die ID nommer 441116 002 0082. Sy was destyds getroud met mnr. Gert Lukas Brits en volgens binnelandse sake is hulle nog steeds getroud.

'n Foto van me. May-Evelyn Brits toe sy jonk was.
‘n Foto van me. May-Evelyn Brits toe sy jonk was.

 

Chowles het vertel dat sy die jongste van vier kinders is wat Brits by haar pa, mnr. Hennie Terblanché, gehad het. Sy het tydens die soektog na haar ma vasgestel dat sy nog twee kinders by Brits gehad het. Chowles se halfsuster, me. Queenie Chicell bly hier in Mbombela en haar halfbroer in Australië.

“My ma het my pa gelos vir die ander man. Ek was maar ses maande oud toe my pa my by haar weggevat het omdat sy glo nie vir ons kon sorg nie. Ek was sowat ses of sewe jaar oud toe ek een keer vir haar gaan kuier het en kan haar glad nie onthou nie.”

Sy het afgekom op ‘n artikel wat in Vrouekeur in 1988 gepubliseer is. Die joernalis het met haweloses by ‘n toevlugsoord in Gauteng gesels en Brits onder meer afgeneem. Sy het aan die joernalis genoem dat sy vier kinders het en dat hulle haar moet kom haal.

Die foto van May-Evelyn Brits (middel) wat in 1988 in Vrouekeur verskyn het.
Die foto van May-Evelyn Brits (middel) wat in 1988 in Vrouekeur verskyn het.

 

Chicell het aan Laevelder vertel dat sy maar ‘n jaar oud was toe Brits háár pa gelos het. “Ek het ook al probeer om my ma op te spoor, maar sonder sukses. Destyds toe ek 20 was en na my ma in Gauteng gaan soek het, is daar vir my gesê dat sy in die winter na Durban reis en in die warmer somermaande terugkom na Gauteng. Ek het toevallig op ‘n artikel afgekom oor my ma wat in Huisgenoot was. Daarin het sy ook gesê dat sy haar kinders soek. Ek het verskriklik gehuil.”

Volgens Facebook-gebruikers in Gauteng wat help in die soektog na Brits, is sy laas in Newlands, Johannesburg gesien voordat sy glo na ‘n kêrel in Turffontein is. Die inskrywings lui dat die kêrel se naam en adres onbekend is.
“My ma laat geen spoor nie. Volgens haar ID-nommer kry sy nie eens ‘n staatspensioen nie,” het Chowles gesug.

Dit is haar grootste hartsbegeerte om haar ma op te spoor, sê sy. “Dit is nie vir my om te verwyt nie. Sy is my ma en ek wil haar leer ken, haar net druk en sê ek is lief vir haar.”

Mense sê sy lyk soos haar ma. Diegene wat haar geken het, het gewaarsku dat sy maar “altyd ‘n swerwer” was en as Chowles haar weer sou opspoor, sy net weer die pad sou vat. “Dit maak nie saak nie. Sy moet weet ek is hier vir haar,” het Chowles gepleit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button