Vroue van die nag neem dorp oor
"Dit is walglik. Hulle staan nou al voor die kerk en die ouetehuis. Die trokke wat die prostitute besoek, is te hoog vir die telefoonlyne en beskadig dit telkens."
LYDENBURG – Inwoners is nou keelvol vir prostitute wat op die voorstoep van Avbob, of in dié geval, Doves-begrafnisondernemers se stoep speel.
Een van die moedelose inwoners, me. Francis le Roux, van De Ark Gastehuis in Kantoorstraat, het die koerant vertel dat kliënte van die vroue, meestal swaarvoertuigbestuurders, telkemale al die Telkom-kabel afgery het om bietjie nag-aksie te geniet.
“Dit is walglik. Hulle staan nou al voor die kerk en die ouetehuis. Die trokke wat die prostitute besoek, is te hoog vir die telefoonlyne en beskadig dit telkens.”
Sy het al verskeie kere die polisie in kennis gestel van die beenwysbedryf, maar steeds keer hulle elke keer terug.
Stasiebevelvoerder van Lydenburg SAPD, kol. Hans Putter verduidelik: “Dit is regtig moeilik om hulle vas te trek. Daar is verskeie reëls en regulasies rondom dit wat dit baie ingewikkeld maak.
Die polisie mag byvoorbeeld nie die prostituut uitlok alvorens daar nie by die hof aansoek gedoen is vir ‘n Artikel 252-verklaring nie. Prostitusie is steeds teen die wet, maar dis harde werk om te bewys dat die vrou wel besig was met ‘n transaksie.”
Hy verduidelik dat indien die vrou wel vasgetrek word en in die hof verskyn, sy gewoonlik net met ‘n waarskuwing daarvan afkom. “Die volgende nag is hulle maar weer terug.”
Prostitusie is die aktiwiteit waarby seksuele dienste gelewer word in ruil vir geld of selfs goedere vir dienste. Dit word beskryf as een van die oudste bedrywe in die wêreld en word orals beoefen, hoewel die wettigheid daarvan plek-plek verskil.
Daar is verskeie vorme van prostitusie, onder andere straatprostitusie (soos byvoorbeeld die vroue in Kantoorstraat), rooilig-distrikte en bordele (soos in Nederland en Duitsland), en gesellinne (wat gewoonlik op die Internet, in die media en in telefoongidse geadverteer word).
Prostitusie is sedert 1957, volgens die Wet op Seksuele Misdrywe onwettig verklaar; tog word daar telkens deur verskeie organisasies pogings aangewend om dit te wysig.
