Hard newsLocal newsNewsNews

Stop die wreedheid nou!

Barberton Times het die afgelope jaar baie mense die deur gewys wat hulle hondjies te koop by ons wou kom adverteer. Ons ondersteun die DBV en enige organisasie wat homself beywer vir die welsyn van diere en daarom vra ons dat die skuldige persone in Barberton hul houding moet verander.

Die wreedheid teenoor diere blyk maar net nie om tot ‘n einde te kom nie. Dit wil voorkom asof al die artikels, die bewusmakingsveldtogte van die DBV en soveel ander inisiatiewe op dowe ore val.

“Daar is mense wie se mentaliteit van só ‘n aard is, dat jy kan maak wat jy wil, hulle het nie die menslikheid in hulle om te besef dat dit waarmee hulle besig is, die aanhoudende teel van diere, een van die wreedste vorme van dieremishandeling ooit is nie,” sê Marcelle Hoffman, voorsitter van Barberton se DBV.

Marcelle vertel dat sy onlangs ‘n vrou in die dorp oor die geteel van die honde op haar werf moes aanspreek. “Die drie teefhonde was almal op ‘n stadium dragtig en het tussen mekaar ongeveer 12 hondjies opgelewer. Stel jou voor – 12 klein hondjies op een erf in die dorp! Hulle word weggegee aan enigeen wat ‘n hond wil hê. Die diere word nie gesteriliseer nie en op ses maande is daar weer ‘n spul kleintjies op pad, want ja, tefies kan so vroeg as op ses maande dragtig raak.”

Net verlede week is Marcelle deur die eienaar van ‘n plantasie so 45km buite Barberton op die Badplaas-pad genader. Hy en sy werker het bewus geword van twee bewoners wie se honde in ‘n haglike toestand was en het versoek dat sy kom ondersoek instel.

Marcelle sê dat daar nie woorde is om die toestand van die diere wat sy daar aangetref het te beskryf nie. “Al twee die mans gebruik hulle honde om mee te jag. Om ‘n lang storie kort te maak, die arme tewe word aan kettings gehou, is uitgeteer en bly net kleintjies kry. Dit is in my oë soos verkragting. Sy sit daar aan ‘n ketting en die reuns maak nes hulle wil. Sy is ondervoed, die kleintjies kry nie kos nie… ek het nie woorde nie. Die ketting van die een tefie was al so diep in haar nekkie ingesny en so styf vas, dat ek nie eens my duim tussen haar vel en die ketting kon inkry sodat ons dit kon afsny nie. Die babahondjies is verwilderd en antisosiaal, die een het my boonop gebyt.”

Op die ou end het sy twee tewe, drie reuns en vyf kleintjies verwyder. Meeste van hulle moes uitgesit word. “Wat my hart die meeste breek, is dat die vriendelikste van die hond die slegste gelyk het. Hy het in so ‘n mate brandsiekte gehad dat dit gelyk het of iemand hom met kookwater gegooi het.”
Die een teef met haar kleintjies, die einste een waarvan die nek so beseer was van die ketting, is tans in die sorg van die DBV.

“Die geteel van diere is besig om ons, die DBV in so ‘n mate te verarm dat ons net nie kan voorbly nie. Hondjies word links en regs verkwansel en weggegee en nie gesteriliseer nie. Op die einde van die dag sit ons met vermaerde, verminkte diere wat ons moet wegvat van die eienaars en laat uitsit.

“Dit kos geld wat ons vir die sterilisasie van diere kon aangewend het. Ja, dis vreeslik oulik wanneer jou dier kleintjies kry, maar het jy al ooit gedink wat word van daardie oulike diertjies wat jy so adverteer op sosiale platforms soos Facebook? Besef jy, mens, waarmee jy besig is? Ek wens ek was in die posisie om elke foto wat ek neem, elke toneel wat ek besoek aan die publiek te kan wys. Dit wil my voorkom die enigste manier hoe iets deur sommige dik velle gaan dring sal wees wanneer mense sonder ophou aan die wrede werklikheid blootgestel gaan word – dag na dag.”

Barberton Times het die afgelope jaar baie mense die deur gewys wat hulle hondjies te koop by ons wou kom adverteer.
Ons ondersteun die DBV en enige organisasie wat homself beywer vir die welsyn van diere en daarom vra ons dat die skuldige persone in Barberton hul houding moet verander.

Die publikasie vra ook dat enigeen wat inligting het aangaande wreedheid teenoor diere, dit onmiddellik aan die DBV sal rapporteer. Marcelle Hoffman kan by 082-825-1505 of Dave Bartholomew by 082-462-1457 geskakel word.
“Alle oproepe word vertroulik hanteer en jou identiteit word te alle tye beskerm. Ons het julle hulp nodig – sonder inligting is ons hande afgekap.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button