Hard newsLocal newsNewsNews

Man met varkgriep in intensiewe eenheid

"Sy toestand het blykbaar as gevolg van sy asma versleg en hy is na die ISE oorgeplaas." Eers tóé is Hennie vir die H1N1-virus getoets en behandel.

MBOMBELA – ‘n Man lê al vir twee weke in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid (ISE) nadat dokters die H1N1-virus, oftewel varkgriep, by hom gediagnoseer het.

Mnr. Hennie de Wet is tans aan ‘n ventilator gekoppel, maar sy gesin sê “dit gaan elke dag ‘n bietjie beter met hom”.

Louise was twee weke gelede – nog vóór haar man – met dié virus gediagnoseer.

“Ek het gewone griepsimptome gehad,” het sy aan Laevelder vertel. “Toe die dokter vir my sê dat ek varkgriep het, was ek nie bekommerd nie, want ek het geweet dat dit behandelbaar is.”

Haar man het toe ook simptome begin toon, maar is aanvanklik glo met ‘n bakteriële infeksie gediagnoseer en daarvoor behandel.

“Ons was altwee siek in die bed, maar het besluit om Woensdag (8 Julie) te gaan werk,” het sy gesê.

Toe die dokter vir my sê dat ek varkgriep het, was ek nie bekommerd nie, want ek het geweet dat dit behandelbaar is

“Ek het vreeslik goor gevoel en hom gebel om te hoor of hy my by die werk kon kom haal.

Hy sê toe hy is reeds lankal in die bed omdat hy ook sleg gevoel het.”

Die egpaar het daardie middag gery om ‘n nuwe verstuiwingstoestel (nebuliser) te koop toe Hennie van erge borspyne begin huil het. Hy sukkel glo al jare met asma.

“Ek het hom onmiddellik ongevalle toe geneem,” het sy vrou gesê.

Hy is met dubbele longontsteking gediagnoseer en is in die hospitaal se hoësorgeenheid opgeneem.

“Sy toestand het blykbaar as gevolg van sy asma versleg en hy is na die ISE oorgeplaas.” Eers tóé is Hennie vir die H1N1-virus getoets en behandel.

Sy dogter, me. Annika Mackenzie, ‘n apteker van eMalahleni, sê ‘n internis by Mediclinic Nelspruit het die virus by haar pa gediagnoseer en die geval aan ‘n meer gespesialiseerde internis oorhandig, wat bevestig het dat varkgriep die enigste infeksie was waarvoor hy positief getoets is.

Sy glo haar pa se asma het veroorsaak dat die virus hom so erg geaffekteer het.

“Die virus sélf is geneesbaar, maar ander infeksies maak die genesing moeiliker.” Juis daarom moes die hospitaal ‘n spesifieke masjien, die ECMO-respiratoriese stelsel, van Pretoria af vervoer om hom met asemhaling by te staan.

“Die masjien neem die longe se funksies oor,” het Mackenzie gesê.

Hennie was glo die tweede persoon in die stad wat van hierdie masjien gebruikgemaak het.

Die dokters het gesê as dit nie vir die ECMO was nie, sou hy sekerlik dood gewees het.

Volgens Mackenzie, sou haar pa ligter van die saak af gekom het as hy vroeër dié seisoen ‘n griepinspuiting gekry het.

“Elke jaar word die inenting aangepas om die spesifieke tipe griep wat daardie jaar die rondes doen, te beveg.

“Hierdie jaar was die spuite vir varkgriep bedoel.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button