Rioolprobleem binnekort ‘n ding van die verlede
"Ons sal op dié datum persoonlik besoek by die pompstasie aflê om vas te stel of die DWS hulle ooreenkoms nagekom het."
BELFAST – Die voortslepende rioolprobleem in dié dorp gaan moontlik eersdaags iets van die verlede te wees.
Dit volg nadat die burgerregte-organisasie AfriForum onlangs die Departement van Water en Sanitasie (DWS) op terme geplaas het toe daar tydens ‘n besoek aan die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit (EPM) vasgestel is dat rou riool vir langer as ‘n week in ‘n vleiland en rivierstroom wat aan Belfast grens, gestort is.
Volgens mnr. Hein Gonzales, AfriForum se provinsiale koördineerder, is daar gevind dat die pompstasie se primêre asook sekondêre rioolpomp verwyder is.
Die waarnemende munisipale bestuurder van EPM, me. Elizabeth Tshabalala, was volgens Gonzales glo bewus van die rioolstorting, maar het gesê dat sy weens die gebrek aan finansies nie die rioolpompe onmiddellik kon laat herstel nie.
DWS is toe op terme geplaas om met ‘n werkbare plan vorendag te kom oor hoe die probleem opgelos gaan word. AfriForum is egter Dinsdag skriftelik in kennis gestel dat dié rioolprobleem in Belfast teen 27 Julie iets van die verlede sal wees.
Mnr. Johannes Matshiane, kontrole-tegnikus by die DWS, het bevestig dat daar saam met mnr. Lucas Sindane, tegniese bestuurder van die EPM, inspeksie by die westelike pompstasie gedoen is waarna albei die stukkende pompe verwyder is.
“Mnr. Matshiane het bevestig dat die pompstasie teen Maandag, 27 Julie weer operasioneel sal wees. Ons sal op dié datum persoonlik besoek by die pompstasie aflê om vas te stel of die DWS hulle ooreenkoms nagekom het,” het Gonzales gesê.
Die DWS het onderneem om die situasie noukeurig te monitor en AfriForum op die hoogte te hou. “AfriForum se regspan is gereed om regsaksie te neem indien die DWS nie gestand doen aan hulle onderneming nie,” het Gonzales afgesluit.



