
Skokkende statistieke het onlangs onthul dat ongeveer 20 persent van maatskaplike gevalle waarby kinders betrokke is, seksuele misbruik behels. Dit is gelyk aan een uit elke vyf sake.
Trienie Drotschie, ‘n maatskaplike werker van die plaaslike tak van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), wat oorspronlik van Betlehem in die Oos-Vrystaat, kom, sê sy het nog nooit so baie met seksuele geweld teen kinders te doen gekry, soos hier in Mpumalanga nie.
Drotschie het verduidelik dat Artikel 150 van die Kinderwet en Regulasies, Wet 38 van 2005, bepaal dat kinders onder die volgende omstandighede sorgbehoewend is:
• As hulle wees of in omstandighede sonder enige besienswaardige vorm van versorging en ondersteuning gelaat word
• Gedrag openbaar wat nie deur ouers beheer kan word nie
• As hulle moet bedel vir ‘n inkomste of op straat leef
• Verslaaf is aan afhanklikheidsvormende middels sonder ondersteuning om behandeling te ontvang
• Aan omstandighede van uitbuiting blootgestel word
• In omstadighede leef wat hulle welstand leed kan aandoen
• Die risiko bestaan dat die kind weer blootgestel sal word aan omstandighede wat sy/haar welstand leed kan aandoen, indien hy/sy na die ouers se sorg sou terugkeer
• In ‘n toestand van fisiese of emosionele verwaarlosing is of
• Ondervoed, mishandel, doelbewus verwaarloos of verneder word.
Seksuele mishandeling sluit verkragting, seksuele aanranding of die toelating
hiervan in.
“Min mense besef die erns van die saak. Waar ‘n pa of ander familielid die kind molesteer en die ma weet daarvan, maar meld dit nie aan nie, is sy net so skuldig,” het Drotschie gesê.
Sy het verwys na ‘n onlangse voorval waarmee die plaaslike CMR te doen gekry het: ‘n vyfjarige dogtertjie wat deur haar oupa en familievriende verkrag is. Die ouma het daarvan geweet en sy moes elke keer die dogtertjie na afloop daarvan, troos.
“Sy het daarvan geweet, maar stilgebly.” Drotschie sê dit maak nie saak hoe klein die vermoede is nie, dit moet steeds by die polisie aangemeld word.
Wat baie nie besef nie, is dat die wet voorsiening maak vir professionele persone soos sy om te in die beste belang van die kind op tree.
“Die laaste opsie is om die kind te verwyder. “‘n Kind sal byvoorbeeld nie weggevat word omdat daar nie kos in die huis is nie, maar die ouers sal eerder gemotiveer word om te werk en tydelik hulp kry. As maatskaplike werker, tree ons altyd in die beste belang van die kind op. Ons verwyder nie sommer kinders nie, tensy hy/sy in gevaar is en beveilig moet word.”
Drotschie het ook verwys na ‘n onlangse voorval waar ‘n 11-jarige seuntjie aan ‘n speletjie moes deelneem waartydens hy kaal moes poseer. Daar is foto’s van hom geneem wat op die Internet geplaas is.
Dr. Sufran Smith, senior lektor in forensiese maatskaplike werk by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus, het vertel: “Ek is heeltemal gekant teen die plaas van foto’s van naak of halfnaak kinders op sosiale media. Ek kan nie sê of dit kinderpornografie aanmoedig of nie, maar weet beslis daar is siek mense daarbuite wat dit kan omskep in kinderpornografie, danksy tegnologie soos Photoshop.
“Ek raai alle mense af om foto’s van kinders wat kaal is (selfs babas) op enige sosiale netwerk te plaas.
Ek weet van ‘n saak wat onlangs oopgevlek is waartydens hulle foto’s in ‘n man se besit gekry het waarop die babas se naelstringe nog aan was en daardie foto’s is vir pornografiese doeleindes gebruik.” Sy voeg by dat dit wat vir ons onskuldig blyk te wees, pedofiele seksueel kan prikkel.
“Wat ‘n mens ook moet onthou is dat daar pedofiele onder alledaagse Facebook-gebruikers is wat dalk ook seksueel geprikkel word deur jou kind se onskuldige foto waar hy kaal op sy handdoek lê en dit wil niemand hê nie. Once it’s in cyberspace, you have no control over it.” Sy het self al foto’s van haar kinders op sosiale media geplaas waar hulle swem, maar dan steek net haar kind se kop uit. Selfs as hulle bad, moedig sy aan dat geen geslagsdele sigbaar moet wees nie,
“Wees versigtig, want dit is baie makliker om pornografie te vervaardig en te versprei as ‘n dekade gelede,” sê Smith.
