MBOMBELA – Michaela Harmse (17) het Dinsdag die eerste van vermoedelik ‘n hele paar operasies ondergaan om die skade aan haar gesig te herstel. Dié matriekleerling van Hoërskool Bergvlam was vroeg Sondagoggend in ‘n motorongeluk betrokke, kort ná die skool se matriekafskeid die vorige aand.
Laevelder het Dinsdag berig dat Michaela en die bestuurder van ‘n Volkswagen Golf omstreeks 05:00 op die hoek van Shuttle en Aurorastrate in Steiltes in ‘n ongeluk was. Die bestuurder het ‘n lamppaal en palmboom getref en Michaela is deur die voorruit geslinger. Die bestuurder (21) het hierna die ongelukstoneel verlaat. Sy ma voer aan dis omdat Michaela hom verseker het sy is nie ernstig beseer nie en omdat haar seun hulp gaan soek het.
Lees ook: Matriek beseer in ongeluk ná afskeid
Michaela is na Mediclinic Nelspruit gebring waar sy gestabiliseer is. Sy is dieselfde dag ontslaan, maar Maandag in Rob Ferreira Hospitaal opgeneem.
Michaela se verhemelte is ondermeer in die ongeluk gebreek en sy is sowat ses van haar voortande in die bokaak kwyt. ‘n Mond-en-kaakspesialis het Dinsdag tydens ‘n drie uur lange operasie twee plate en skroewe in haar verhemelte gesit.
“Die breuk in haar verhemelte is hertel en haar kakebeen is weer op in posisie,” het haar ma, me. Shane Harmse, by navraag gesê.
Sy was Woensdag reeds weer tuis en sal nou verder daar aansterk. “Die dokter was fantasties en die diens by Rob Ferreira absoluut wonderlik,” het Harmse bygevoeg. Sy sal na verwagting oor sowat agt weke ‘n beenoorplanting in haar gesig ondergaan waarna sy nuwe tande sal kry.
“Haar draadjies het juis die Woensdag voor die afskeid afgekom. Sy kon nie ophou glimlag nie,” het Harmse vertel. Sy het Woensdag gesê dat Michaela verbasend genoeg geen pyn ervaar nie. “Ons vat dit nou dag vir dag. Die dokter is baie hoopvol en het gespot dat Michaela selfs mooier sal wees as voor die ongeluk.”
Onderwysers en medeleerlinge het al vir Michaela kom kuier en Harmse het bygevoeg dat hulle vir haar skoolwerk sal bring sodat sy, sover moontlik, nie agterraak nie. Daar is egter nog geen aanduiding wanneer sy sal kan terugkeer skool toe nie.
Michaela sou volgende jaar ‘n sogenaamde “gap” jaar gevat en oorsee gaan reis het. “Dis nie nou belangrik nie. Ons fokus nou net op haar herstel,” het Harmse gesê. “Ons is oorweldig deur al die ondersteuning en bedank almal opreg hiervoor.”
