Wildevy-fietsryers druk deur tot einde toe
Al het van die ryers hul fietse oor die wenstreep gestoot, het hulle seker gemaak dat hulle die wedren voltooi
Nie eens die bosse, dorings of ‘n pap wiel kon in fietsryers se pad staan tydens Saterdag se Wildevy-bergfietskompetisie nie. Al het van die ryers hul fietse oor die wenstreep gestoot, het hulle seker gemaak dat hulle die wedren voltooi. Die bergfietskompetisie word al sedert 2012 gehou en die organiseerders se doel was om dit aan die standaarde van ‘n nasionale bergfietskompetisie te laat voldoen, maar terselfdertyd wou hulle dit ‘n gesinsgeleentheid maak om plaaslike belangstelling aan te wakker.
Vanjaar het die kompetisie by die PLM Boskamp plaasgevind en vier roetes kon gery word. Die kleingoed het ook ‘n geleentheid gekry om deel te wees van die pret: ‘n 2,5km-roete is vir hulle beplan en elke deelnemer het met ‘n medalje en geskenkpakkie weggestap.
In elke roete is ‘n manlike en vroulike wenner aangewys.
In die 50km wat aanbeveel is vir fiks en ervare deelnemers, het Mark Meyer (02:04:49) en Kirsten Gillespie (02:17:56) eerste plekke behaal. Armand Lombaard (00:49:15) en Zandri Strydom (00:59:07) het eerste in die 20km geëindig en Donald Hlase (00:24:55) en Kaylee Lindeque (00:34:35) was die wenners in die 10km-kompetisie.
