Lewenslange diens in bewaring erken
Lt. Col. Riël du Toit het Saterdag 'n lewenslange bydrae-toekenning in Skukuza ontvang.
SKUKUZA – Ná 43 jaar het lt.kol. Riël du Toit SM van die Laeveldse SANParke-ereveldwagters, Saterdag die raad se lewensprestasietoekenning vir bewaring tydens ‘n glansgeleentheid ontvang.
Dit beteken egter nie dat bewaring die laaste van dié voorsitter gesien het nie. Hy is nog van plan om sy ervaring en kennis met jonges te deel.
As daar een wenk is wat ek aan toekomstige geslagte wil oordra, is dit om deursettingsvermoë en geloof in jouself te hê,” het Du Toit gesê. “Moet nooit opgee nie en geniet elke oomblik.
SANParke het hom in 1962 as ereveldwagter genader. Daardie jare kon mens nie aansoek doen om deel van die raad te word nie – jy moes genooi word. Sedert 1964 was hy amptelik as ereveldwagter op die rol.
Het het vir ‘n paar jaar as voorsitter van die Pretoria-streek se raad gedien, waartydens hy ook die amptelike uniform ontwerp het.
Du Toit en sy vrou, me. Susan, woon vandag in Marloth Park.
Hulle was vir 16 jaar by SANParke se wildopnames uit die lug betrokke, terwyl hulle verskillende werke in die Nasionale Krugerwildtuin gedoen het. Hulle het verskeie uitstallings by onder meer museums, boskampe en Skukuza se kwekery behartig.
In 2000 is SANParke se meriete- sertifikaat ook aan hom toegeken.
Die SM agter sy naam is bewyse van die Suiderkruis-medalje wat die president met lof aan hom toegeken het. Die SM is die hoogste eer van die Suid-Afrikaanse Weermag.
Hy glo die ereveldwagters se bydrae tot bewaring is van ontskatbare waarde. “Die ereveldwagters het ‘n baie groot impak,” het hy gesê.
Hulle dien as verlenging van die parkeraad ter ondersteuning van hul strategiese doelwitte deur tyd, ervaring, opleiding en moeite vrywillig toe te staan.
Du Toit is ‘n ywerige skrywer en het reeds twee bundels van sy boek, Stories om oor te vertel gepubliseer.
