Vroue wat trou spreek wanpersepsies aan
Shannen en Annette Dye het op 25 Julie 'n gebruiklike huwelik betree. Tot hul verbasing, het mense in Mbombela hulle tot dusver nog net goed hanteer.
MBOMBELA – “Voor ons troue het mense vir ons gevra wie die pak gaan dra en wie die rok. Obviously gaan nie een van ons ‘n pak dra nie, want ons altwee is vroue.”
Hulle is die Dyes en hulle is die stad se nuutste homoseksuele paartjie wat die knoop deurgehaak het. Annette en Shannen Dye het op 25 Julie ‘n gebruiklike huwelik betree nadat hulle vir nege maande in ‘n verhouding was.
Daar is nie ‘n “manlike” en “vroulike” een in hulle verhouding nie. Hulle is mekaar se eweknieë en omhels hulle individuele vroulikheid. Hulle is nie skaam om oor hulle selfdegeslagverhouding te gesels nie. Inteendeel, hulle deel graag hul uiteenlopende opinies oor gay-wees.

Annette het twee kinders uit ‘n mislukte huwelik met ‘n man. Maar, sê sy, sy was nooit deur haar eks, of enige ander man, seergemaak nie. “Baie mense glo mos dat iemand van die teenoorgestelde geslag ‘n mens moes seermaak vir hulle om gay te wees, maar dit is glad nie die geval nie.
“Of Shannen nou ‘n man of ‘n vrou was, ek sou in elk geval op hierdie persoon verlief geraak het,” vertel Annette. “Dis nie asof ek van geboorte af gay was nie.” Shannen, aan die ander kant, het op skool al haar eerste meisie gehad. “Ek het eintlik met meisies en ouens uitgegaan, want ek het nooit geweet wat ek wou hê nie,” spot sy.
Ek het net nie die vlinders in my maag gekry met ouens soos wat ek met meisies gehad het nie. Boonop het meisies my baie beter behandel en meer bederf as ouens. So, ek dink ek het al op ‘n jong ouderdom besluit om eerder vir meisies te gaan. ‘n Mens kan net nie kies op wie jy verlief raak nie.
Hoe hulle dan ook al verskil, dit is duidelik dié twee is verlief, maar hulle is ook mekaar se beste vriendinne. Hulle het selfs ooreen- gestem om mekaar te vra om te trou, eerder as wat die een die ander een vra.
“Ek het haar aan die begin van Maart gevra om met my te trou en sy het my aan die einde van Maart gevra,” vertel Annette.
“Ons verlowing sal enige man skaam maak,” onderbreek Shannen haar. “Annette het my met ‘n microlight na Bagdad laat vlieg, waar ons vriende almal met groot borde gestaan het wat ‘Will you marry me?’ uitgespel het. Toe ek op die grond kom, sak sy op haar een knie neer en vra my toe amptelik.”
Op haar beurt het Shannen vir Annette ‘n mooi rokkie by die huis gelos met ‘n briefie wat lui “Wees 18:00 reg”.
“Sy het my laat optel en ‘n pragtige tafel vir twee onder ‘n boom vol liggies by Hoërskool Bergvlam laat sit. Al ons vriende het elkeen ‘n rooi roos gebring wat die dinge voorstel wat vir ons belangrik is, soos vriendskap, familie, vertroue, ensovoorts. Shannen het toe heel laaste uitgestap met ‘n wit roos en my gevra.”

Vir baie mag die idee van huwelik tussen mense van dieselfde geslag ‘n vreemde en selfs onaanvaarbare een wees, maar die Dyes was baie verbaas om te sien hoe toeganklik Mbombela se inwoners tot dusver was.
“Op ons wittebrood in St. Lucia het mense ons aangegluur en ongeskikte opmerkings gemaak, maar ons plaaslike mense sal eintlik vir ons ‘n glimlag of kopknik gee,” sê Annette. “Die mense wat ons troue gereël het, het ons nooit enigiets geweier of snaaks aangekyk nie.”
Annette se twee seuns het ook glad nie ‘n probleem daarmee om nog ‘n ma te hê nie. “Hulle het al klaar haar gesag aanvaar en het haar verwelkom,” sê sy.
Dit was ook nie te veel van ‘n aanpassing vir Shannen om ewe skielik ‘n ma te wees nie. “Ek maak hulle groot soos wat ek in elk geval beplan het om my eie kinders groot te maak – nie té streng nie, maar gestruktureerd en liefdevol.”

Vir dié paartjie is die lewe nou net as of hulle met hul beste vriendin getroud is. “Ons dra mekaar se klere en grimering… of wel, ek gebruik Annette se grimering,” grap Shannen.
“Ja, toe ons eers saam intrek, het dit gevoel of ek nou net gaan shop het elke keer wat ek my kas oopgemaak het,” voeg Annette by. “Gelukkig is ons dieselfde grootte. Ons het nie dieselfde skoengrootte nie, maar ons sal maar daarmee moet saamleef.”
