
MBOMBELA – Terwyl die een ingang na Kazuri Restaurant in die botaniese tuin opgenkap word, brand die ander een af. ‘n Vuur het vandeesweek die gebou langs die restaurant in puin gelê is, maar bra min ander skade is gely.
Die gebou het Woensdagaand vlam gevat. Die mure staan nog, maar die grasdak van die konferensiesaal is in puin gelê. Die besoekersinligtingsentrum se dak het ook gebrand, maar Mbombela se brandweer kon darem verhoed dat dit na die restaurant versprei.
Mnr. Taki Mamatsharaga, kurator by die tuin, sê mense wat in die aangrensende meenthuiskompleks woon, het hom om ongeveer 21:30 in kennis gestel dat die grasdakke brand. Brandbestryders is ontbied en moes dele van die grasdak uitmekaartrek.

Die volgende oggend het dit soos die nadraai van ‘n boeredans in ‘n skuur gelyk. Mamatsharaga kon aangetref word waar hy nog van die rokende dele van die grasdak saam met werkers van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) natgemaak het.
Hy sê daar was net ‘n paar meubelstukke in die saaltjie, en hulle gebruik dit darem ook nie gereeld nie. Op die oog af is die inhoud van die inligtingsentrum ook nie beskadig nie.

Mnr. Johan von Weidts, waarnemende hoof van Mbombela se brandweer, sê hoewel hulle die vuur kon blus en verhoed dat dit na ander geboue versprei, dit te wagte was dat die dik lae gras nog vir die res van die dag sou smeul. Teen druktyd was die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.
- Read more here on a recent case of arson in Mbombela.






