Teetyd is glo prioriteit by Lydenburg Hospitaal
'n Man wat sedert 2004 aan 'n rolstoel gekluister is na hy in 'n motorongeluk betrokke was en sy regterbeen daarna geamputeer is, is Saterdag glo opname in Lydenburg Hospitaal geweier.
LYDENBURG – ‘n Man wat sedert 2004 aan ‘n rolstoel gekluister is na hy in ‘n motorongeluk betrokke was en sy regterbeen daarna geamputeer is, is Saterdag glo opname in Lydenburg Hospitaal geweier.
Mnr. Jannie Venter (51) het Vrydag uit sy rolstoel by sy vrou, Sanet se werk by Welma Slaghuis in die Kwenadam-omgewing geval. Sedert die val het hy baie pyn verduur en het Sanet hom Saterdagoggend vroeg na die hospitaal geneem. Toe hulle daar kom, het die suster wat opnames behartig, glo geweier om hom op te neem.
“Sy was vreeslik ongeskik en het gesê dat sy hom nie gaan opneem nie, maar eers haar tee gaan drink,” het Sanet vertel.
Die Venters moes toe noodgedwonge die hospitaal verlaat om later terug te keer in ‘n tweede poging om hom te laat opneem.
Mnr. Johan Schmahl, by wie die paartjie al vir die afgelope twee jaar op ‘n plaas in die Badfontein-omgewing woon, het die koerant ontstoke gebel en van die voorval verwittig. “Dit is onaanvaarbaar. Hoe kan sy weier om hom op te neem en dan boonop aanvoer dat sy eers haar tee gaan klaar drink! Dit is belaglik. Ek wil hulle by die mediese beheerraad gaan verkla.”
Toe die Venters vir die tweede keer terugkeer, is hulle deur een van Steelburger/Lydenburg Nuus se verslaggewers vergesel.
Die betrokke suster aan diens, wat nie ‘n naamplaatjie gedra het nie en nie haar naam wou verskaf nie, het Jannie hierdie keer sonder skroom laat opneem.
Dit is egter nie net die diens by die hospitaal wat Saterdagoggend gekwel het nie, maar die toestand van die toiletgeriewe het ook veel te wense oorgelaat. Die vloer was vuil en bemors met wat na ontlasting gelyk het en dit wou voorkom of die geriewe lanklaas ontsmet is. Sanet het aan die koerant vertel dat sy baie bekommerd is oor die higiëne, aangesien Jannie baie vatbaar is vir blaasinfeksie.
Steelburger/Lydenburg Nuus het haar Maandag geskakel om te hoor hoe dit met haar man gaan. Sy het bevestig dat dit baie beter met hom gaan en dat hy vir X-strale geneem was. “Hy het darem niks gebreek nie, maar met die val het sy spiere in spasma gegaan. Hy gaan nou fisioterapie kry.”
Die koerant het navrae oor die aangeleentheid aan die Mpumalanga Departement van Gesondheid gestuur. Die departement het in ‘n verklaring gesê dat Jannie omstreeks 09:55 in die hospitaal opgeneem is, die presiese tyd wat die koerant hulle vergesel het
ná hy die eerste keer opname geweier is.
Volgens mnr. Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement, het die “professionele” verpleegster gevra dat Sanet na die rekeningafdeling gaan om sy lêer te kry. “Die betrokke verpleegster het Jannie
toe ondersoek.
“Sy vrou het teruggekeer met die lêer en die pasiënt verwys na die dokter aan diens. Die dokter het medikasie voorgeskryf, X-strale geneem en hy is teruggestuur huistoe.”
Malamule meen dat geen verpleegster op tee-breek was toe die Venters daar gekom het nie.
“In ieder geval mag geen pasiënt opname geweier word as gevolg van tee- of etenstye nie. Ondersoeke na kliëntediens word op ‘n gereelde basis gedoen. Die badkamers was nie so skoon soos gewoonlik nie as gevolg van wateronderbrekings in die dorp onderwyl nuwe pype deur Thaba Chweu Munisipaliteit aangelê word.”
