Leerders besoek die inry-teater met hul eie wiele
Die kar-koors het vir ‘n tydjie voor die dag al hoog geloop, want elke kind moes sy eie wiele uit kartonbokse bou. Dit was duidelik dat baie van die ouers net soveel pret as die kinders gehad het met die bou hiervan.
Om by ‘n inry te gaan fliek was weinig van die jonger geslag beskore, en feitlik geen van dié in Barberton nie. Jare gelede was daar meer as 50 van die tipe teaters in die land, maar die laaste een, die Menlyn Park-inryteater in Pretoria, het in Februarie verlede jaar sy deure gesluit.
Laerskool Barberton het besluit dit gaan hulle nie keer om inry toe te gaan nie. Vrydagoggend het die gr.1’s vroeg-vroeg opgedaag met hulle karre en dié byvoorbaat in die saal gaan parkeer vir die fliek wat later sou wys.
Die kar-koors het vir ‘n tydjie voor die dag al hoog geloop, want elke kind moes sy eie wiele uit kartonbokse bou. Dit was duidelik dat baie van die ouers net soveel pret as die kinders gehad het met die bou hiervan.
Alles was daar te sien, van batmobiles tot Frozen-tema tjorre. Daar was selfs ‘n vliegtuig of twee. Groot, klein, helder en gewoon – die kinders het hulle gate uit geniet, al het dit hope verbeelding gekos om die “kar” in die boks te sien met sommige van die pogings. Voor die fliek begin het, het elkeen stelling in sy voertuig ingeneem in die stampvol saal.
Dit was ‘n oggend wat hulle nie gou sal vergeet nie, en een waar die kinders van Laerskool Barberton ook die geleentheid gekry het om darem te voel hoe dit is om by ‘n propperse inry-teater te gaan fliek en iets uit hierdie vergange era te beleef.
























