
MBOMBELA – Die landswye tekort aan vloeibare petroleumgas (LPG) het verspreiders en gebruikers bekommerd, maar dit het nog nie krisis-afmetings aangeneem nie.
Die twee maand lange tekort het eers verlede week regtig hier kop uitgesteek toe verspreiders se LPG opgeraak het. Die tekort word hoofsaaklik toegeskryf aan raffinaderye wat moes toemaak vir opknappings- en herstelwerk.
Volgens die Suid-Afrikaanse Petroleum Kleinhandelaars-vereeniging (SAPRA) sou die land se grootste raffinadery, Sapref, van 15 Junie tot 15 Julie vir opknappingswerk sluit. Dit is glo na daar in April ‘n brand by hul perseel in Durban uitgebreek het. Die tweede grootste, Enref sou vanaf 9 Julie tot 11Augustus toemaak vir roetine-opknappings, wat die vervaardiging van LPG raak.
Intussen het TotalGaz ‘n heffing op die invoer van LPG ingestel weens die tydelike sluiting van raffinaderye en gevolglike voorraadtekorte.
Dit is nie ongewoon vir die vraag na hierdie gas om tydens wintermaande te styg nie. Boonop gebruik meer mense oor die algemeen deesdae gas as gevolg van beurtkrag.
Me. Rene van der Merwe, rekenmeester by Total Gaz SA se plaaslike depot, sê hulle klante het heelwat toegeneem oor beurtkrag. Hul voorraad het verlede week opgeraak, en hoewel hulle teen Saterdag nuwe voorraad verwag het, is dit nie soos geskeduleer gelewer nie.

Mnr. Alec Blair, bestuurder van Camp & Gas, sê hulle word al geruime tyd van minder as hul benodigde PG voorsien, maar hul voorraad het eers verlede week heeltemal opgeraak. “Ons kry hier en daar, ook van kleiner verskaffers.”
Hulle het Woensdag nuwe voorraad ontvang, waarmee hulle sowat ‘n derde van die klante op hul waglys kon voorsien.
“Hulle sê dit sal teen volgende week normaliseer, maar ek is op hierdie stadium skepties daaroor,” sê hy.
Mnr. Ken Prentice, eienaar van Applied Gas, sê hulle het egter nog nie probleme ondervind met die voorsiening van gas nie weens hul relatiewe hoë voorraadreserwes..
“Voorsiening blyk weer op spoed te wees hierdie week. Maar ons weet nie hoe lank dit gaan hou nie.”
Hy voeg by dat dit belaglik is dat opknapping hierdie tyd van die jaar geskied.
“My vraag is ietwat op, maar dit is omdat ons die enigste ouens in die dorp is wat gas het.”
Dít is goeie nuus vir mense soos mnr. Hannes Anderson, bestuurder en mede-eienaar van Mountain Spring Spur by I’langa Mall. Hy voer aan hulle maak 90 persent van alles in hul kombuis met gas gaar. Hulle gebruik grootmaat gasbottels wat een of twee keer ‘n maand opgevul word, en sover het hulle nie hiermee probleme ondervind nie.
Hy hou egter duimvas dat die voorraadverskaffing nie vererger nie. “Sonder gas het ek geen manier om kos te maak nie. As ons gas opraak sal ek moet toemaak.”
