MBOMBELA – “Ek het gedink sy gaan doodgaan. Haar hele kop was so geswel. Ek was seker daar moes inwendige bloeding wees. Jesus het daardie dag sy hande so om haar gehou, ek belowe jou.”
So vertel mnr. Ben Strydom van Curlews, wie se vrou Lorraine verlede week in hul huis oorval is deur ‘n man met ‘n graaf. Die 63-jarige Lorraine was die Dinsdagoggend alleen by die huis op die plaas waar hulle woon.
Ben het om 08:00 werk toe gery. Skaars ‘n halfuur later het sy ‘n man gewaar wat deur die kombuisvenster geloer het. Sy het eers gedink dis ‘n ou man wat gereeld kom kos vra. Dit was nie. Lorraine het deur die gordyne langs die agterdeur geloer waarop die vreemdeling gesê het hy soek werk. Sy het gesê daar is nie werk nie. Hy het weer gevra, in Engels, “Ek soek werk”. Sy het hom gevra om te loop.

“Toe sien ek hy kyk af na die deur se handvastel. Ek het gou seker gemaak dis wel gesluit. Toe gryp ek die sambok langs die deur. Ek dink hy het die glasvenster onder in die deur geskop, maar toe ‘n baksteen gebruik. Ek het nie die baksteen gesien nie. Maar toe sy been deur die venster kom, toe begin ek slaan,” vertel sy. “Alles het so vinnig gebeur.”
Die man het van die huis af weggedrentel in die rigting van haar hoenderhok, en toe skielik met ‘n graaf teruggekeer. Hy het die res van die vensterglas uitgeslaan en deur die gat begin klim. Lorraine het die hele tyd aangehou om hom te slaan. Toe die aanvaller eers in die huis is, het hy teruggeslaan; teen haar arms, haar rug, haar kop, haar gesig.
“Die hele tyd was ek glad nie bang nie,” sê Lorraine half verbaas. “Ek het nie eens gevoel toe hy my teen die kop slaan en my oor so te sê afkap nie.”
Sy moes hom wel op ‘n sensitiewe plek getref het, want hy het vooroor gebuk van pyn. Toe laat spaander sy die huis in. Sy kon die kombuisdeur sluit en deur die sitkamerdeur by die huis uitkom. Sy het haar selfoon agtergelaat. “Kyk, jy beweeg vinnig. Ek het net gedink ek moet uitkom.”
Sy is na die bure vir hulp en hulle het vir Ben gebel. Mnr. Gert Koen van Curlews se gemeenskapspolisiëringsforum was eerste op die toneel. Hulle het die polisie en ambulans ontbied. Lorraine is eers na die nabygeleë Kiaat Privaat Hospitaal waar sy geskandeer is vir moontlike inwendige beserings. Daarna is sy Rob Ferreira Hospitaal toe, waar sy teen 21:00 steke in haar oor gekry het. Dit was darem nie nodig om haar op te neem nie.
‘n Radio, windbuks, selfoon, vier bottels wyn en ‘n DVD-speler is al wat gesteel is. Geen kos nie. “Ek weet nie hoekom hy dit gedoen het nie.” Sy is dankbaar sy kon tydens die aanval kophou.
“Ek het geveg vir my lewe so goed as wat ek kon. As hy my oorompel het, sou hy my doodgemaak het, ek dink so.”
Buiten die keusplekke, steke, ook op haar oogbank en ‘n gekraakte rib, is Lorraine nou net baie senuweeagtig. As sy terugdink, besef sy die aanvaller moes hulle dopgehou het.
Twee weke tevore het ‘n kombers en kussing uit die gaste-rondawel verdwyn. Sy het gedink dit was een van haar kinders. ‘n Week later het sy opgemerk dat die heining by die wasgoedlyn omgebuig is met twee duidelike voetmerke, asof iemand oorgeklim het. Die Sondag voor die voorval het hulle die beddegoed agter ‘n rots naby die huis gevind. Sy was teen dié tyd agterdogtig, maar het nie veel daarvan gedink nie. Die sambok was net toevallig by die agterdeur; die paartjie gebruik dit meestal om apies en muishonde van die erf te verwilder.
Ben wil haar nou oral met hom saamneem as hy uitgaan vir die loswerkies wat hy doen om sy pensioen aan te vul. Hy sê hy oorweeg dit ook baie sterk om weer ‘n vuurwapen aan te skaf.
“Jy weet nooit wie vir jou koekeloer nie,” sê Lorraine. “Daar is nie veilgheidshekke by die deure nie. Ek sluit alles, wat nie regtig help nie, want dit kan weer gebeur.”
Die egpaar het op 6 Augustus hul 44ste huweliksherdenking gevier. Hulle woon al so vier jaar op die plaas en het nie vantevore probleme gehad nie. Koen sê dit is ‘n veilige area, omdat mense regtig betrokke is bymekaar se veiligheid.
Die Strydoms het intussen ‘n beter waghond aangeskaf, sê Lorraine, wat 46 kilogram weeg. “Elke aand speel die gebeure in my kop af. Dan besef ek hoe amper ek dood was.”
Hulle het die hele gemeenskap hartlik vir hul ondersteuning en hulp bedank. Die Witrivier polisie het bevestig dat hulle ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer sowel as huisbraak ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie. Enigiemand met enige inligting kan AO Henry Grobler by 082-455-6591 kontak.
- Lees hier meer oor ‘n oud-stasiebevelvoerder se ondervinding tydens ‘n plaasaanval.
