Hard newsNews

Pasop – kuberkrakers hou dalk jou e-pos dop

Dit blyk dat kuberkrakers individue se e-posdatabasisse kaap en dan boodskappe aan kontakte met die rekeninghouer se sogenaamde e-handtekening onderaan stuur, wat dit meer eg laat lyk.

MBOMBELA – Internetbedrog vind alledaags plaas en baie van ons kan getuig dat ons daagliks e-posse van oorsese mense ontvang wat kwansuis plaaslik geld wil belê.

Hulle vra jou bankbesonderhede met ‘n belofte dat jy tot 20 persent van hul miljoene dollars vir al jou moeite kan behou.

Hierdie e-posse bevat selde besonderhede van die sender en is aan niemand spesifiek gerig nie. Dit blyk egter nou dat kuberkrakers individue se e-posdatabasisse kaap en dan boodskappe aan kontakte met die rekeninghouer se sogenaamde e-handtekening onderaan stuur, wat dit meer eg laat lyk.

Me. Natalie Grobler is ‘n plaaslike dieetkundige en korrespondeer met tientalle pasiënte met behulp van e-pos. Verlede week het verskeie van haar kontakte een van “haar” af ontvang waarvolgens sy in Istanboel in Turkye gestrand sit na ‘n diefstal en dringend geld nodig het om huis toe te kom.

Hierdie e-pos het ook by Laevelder beland en die koerant het dadelik lont geruik. Grobler is immers Afrikaans, maar die e-pos was in Engels en deurspek met taalfoute. Haar familie het toe by navraag bevestig dat sy veilig in die Laeveld is.

Volgens die e-pos het Grobler ‘n tydelike paspoort by die ambassade ontvang, maar moet egter dringend haar hotelrekening vereffen. Dit lui verder dat sy eers binne drie tot vyf dae toegang tot die fondse in haar bankrekening sal hê, maar dat haar vlug binne ure gaan vertrek.

Daar word ook bygevoeg dat die hotelbestuur haar nie wil laat gaan voordat sy betaal het nie. Dus vra sy ‘n lening van £1 850 en beloof dat dit dadelik terugbetaal sal word sodra sy terug in die land is.

Dit lui: “Jy is my laaste hoop en uitweg. Laat weet my asseblief of ek op jou kan staatmaak, en ek sal aanhou om my e-pos dop te hou vir jou terugvoer, want dit is die enigste manier wat ons in kontak kan bly.”

Laevelder het met “Grobler” begin korrespondeer. Die koerant het gevra hoe dit te werk kan gaan om die geld by haar uit te kry en die kuberkraker het binne minute gereageer.

Toe ons egter laat weet het dat ons ‘n vriend in Istanboel het wat “Grobler” met die nodige kontant by die hotel kan ontmoet, het korrespondensie vanaf die kuberkraker skielik gestop.

Read about more scams here

See how you can avoid your email being hacked

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button