SKUKUZA – Besoekers aan die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) was die afgelope naweek warm onder die kraag toe hulle sien hoe ‘n mede-besoeker uit sy voertuig klim en foto’s van ‘n olifant neem.
Hy is by ‘n verkeersbeampte aangegee, wat opgemerk het dat hy nie teen die man kon optree nie omdat hy diplomatieke immuniteit het.
Me. Stefanie Ross Cantzler het die foto van die toeris Sondag op Facebook geplaas. “Ons het by olifante net buite Shingwedzi gestop toe hierdie man uit sy voertuig geklim het. Hy weet mos nie watse ander gevaarlike diere in die bosse skuil nie. Ons het met ‘n verkeersbeampte gepraat wat genoem het dat hy al meer as een maal met die betrokke man gepraat het. Hy kan egter niks verder doen nie weens sy diplomatieke immuniteit.”
Wetstoepassers in die wildtuin se hande is inderdaad afgekap wanneer dit by toeriste kom wat diplomatieke immuniteit het. Mnr. Isaac Phaahla, ‘n woordvoerder van SANParke, het by navraag gesê dat wetstoepassers die oortreding kan aanteken en die betrokke diplomaat by die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Pretoria aangee.
“Die diplomaat moet slegs op aanvraag dokumentasie kan toon wat wys hy is ‘n diplomaat en van watter land af,” het hy verduidelik. ‘n Regskenner het by navraag verduidelik dat ‘n diplomaat basies ‘n ambassadeur van ‘n ander land is.
“Hulle immuniteit beteken dat hulle nie hier strafregterlik vervolg mag word vir ‘n oortreding nie. Ons owerhede kan wel hulle ambassades in kennis stel. Die betrokke land kan dan besluit om die diplomaat aan ons uit te lewer vir vervolging of hom/haar self verhoor.”
Phaahla het teen druktyd nog gewag op terugvoer oor of die betrokke diplomaat wel aangegee is.
