
MBOMBELA – Die minister van omgewingsake, me. Edna Molewa het onlangs die skokkende onthulling gemaak dat die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vanjaar reeds onder 544 renosterstropings deurgeloop het.
Dit is reeds 33 gevalle meer as verlede jaar. Die wildtuin staar tans ‘n 27 persent toename in stropings in die gesig, wat beteken dat daar tans ongeveer drie renosters in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) per dag uitgewis word. Sover is daar reeds 1 617 wildstropingsaktiwiteite vanjaar hier geïdentifiseer, en daar word beraam dat daar op enige gegewe tyd ongeveer 12 groepe stropers in die NKW aktief is. Weens hierdie hoë syfers, het owerhede reeds meer as 95 keer swaargewapende stropers teëgekom wat gelyk is aan drie keer per week. Teen die einde van verlede jaar, is daar 111 groepe teëgekom. “Was dit nie vir die harde werk van owerhede nie, kon die syfers van stroping veel hoër gewees het,” sê Molewa. “Die verhoogde pogings om stroping te stuit en arrestasies te vermeerder, werp nou vrugte af.”
Verlede jaar is 81 stropers tussen Januarie en Augustus vasgetrek, terwyl daar vanjaar reeds 138 arresteer is. Vyf-en-dertig arrestasies is Julie vanjaar in die NKW gemaak. Molewa voeg by dat die intensiewe beskermingsones ook vrugte afwerp en die park het nou ‘n fase bereik waar dit oor toonaangewende wetstoepassing beskik.
Dit, insluitend verbeterde kommunikasie deur middel van elektroniese toestelle, sorg vir vinniger reaksie, besluitneming en meer proaktiewe operasies.
Owerhede werk ook tans saam met OR Thambo Internasionale Lughawe om te verseker dat die wet daar toegepas word. In terme van die bestuur van die renosterbevolking, is daar reeds planne in plek om die langtermyn-oorlewing van die diere te probeer verseker. “Gedurende 2015 sal SANParke 150 renosters aan private grondeienaars verkoop,” sê Molewa. Ten einde verlede jaar was daar volgens beraming tussen 8 001 en 9 290 renosters in die NKW oor. “Die renosterbevolking is egter vanaf 2012 redelik stabiel,” sê Molewa. Sy voeg ook by dat sedert 2012, 26 weesrenostertjies uit die wildtuin gered moes word.
“Sonder die hulp van die gemeenskap sal hierdie probleem nooit in die kiem gesmoor word nie, maar daar is reeds planne in plek om dit te verseker.
“Ons kan nie hierdie stryd alleen wen nie. Ons maak staat op internasionale liggame om saam met ons hierdie stryd aan te sê. Daarom is daar vanjaar reeds ‘n memorandum aan Kambodja oorhandig, meer jeug van Viëtnam het Suid-Afrika besoek as deel van bewusmakingsveldtogte, daar is ‘n ooreenkoms met Mosambiek aangegaan met ‘n implementeringsplan in plek, en Sjina is onder andere ook genader om bewustheid te verhoog,” sê Molewa.
Sy voeg by dat die toenemende syfers van stroping nie mismoedigheid moet veroorsaak nie, maar eerder daaraan hoop moet gee weens die feit dat dit baie erger kon gewees het. “Wat my die meeste hoop gee, is die feit dat gemeenskappe nou meer saamstaan as ooit vantervore.”
Lees meer oor die oorlog teen stropers
