MBOMBELA – Mense kla dikwels hulle het ‘n slegte, ondankbare werk. Ons is knorrig omdat ons lang ure agter ‘n rekenaar moet deurbring. Kyk jy egter na van die duiktonele wat ons plaaslike polisie se duik- en reddingseenheid moet hanteer, maak dit jou dankbaar vir ‘n kantoor met lugversorging.
Kapt. Pottie Potgieter en sy span is in Witrivier gestasioneer, maar duik regoor die provinsie.
Lees ook: Drownings spike over festive season
Hulle is vroeër hierdie maand na ‘n rioolaanleg by Standerton ontbied nadat ‘n man daarin beland en verdrink het. Volgens kapt. Joey Potgieter was mnr. Mzamiseni Sibusiso Mbele (22) werksaam by die aanleg by Draaihoek naby Standerton. “Hy is die vorige dag afgedank en toegang tot die aanleg belet,” het sy gesê.
Hy het egter op ‘n manier toegang tot die aanleg gekry en in een van die damme beland. Die vermoede bestaan dat hy moontlik sy eie lewe wou neem.
Pottie moes die onaangename taak aandurf om sy liggaam te herwin. Bo en behalwe dat dit ‘n stink, morsige affêre is, is dit lewensgevaarlik, het hy verduidelik. “Ontlasting skei metaangas af wat giftig is. Ons loop ook uiteraard die gevaar om aan gevaarlike bakterieë blootgestel te word.”
Lees ook: Kapperjolle op ‘n einde toe bakkie in rivier beland
Hy is versigtig en stadig met ‘n tou die water in sodat die ontlasting nie in sy gesig moes spat nie. Hy het ook ‘n bril opgehad om sy oë te beskerm. “Toe ek eers onder die water was, was dit beter omdat die ontlasting meestal bo dryf,” het hy bygevoeg. Mbele se liggaam is hierna met relatief min moeite na die oppervlak gebring.
“Gewoonlik haal jy dadelik jou duikmasker se mondstuk uit sodra jy uit die water kom om asem te skep, maar ek moes dit inhou totdat ek uit was en dit kon afspoel sodat ek nie van die vuil water in my mond sou kry nie.”
Die nuwe seisoen en warmer weer wat ons vroeër hierdie week ervaar het, het ook reeds sy tol in die provinsie geëis. Potgieter en sy span is Dinsdag na Ermelo waar hulle die lykies van twee agtjarige seuntjies uit ‘n plaasdam moes haal. Hulle het lafenis teen die hitte gesoek en verdrink in ‘n dam op die Boor-Mant Tafelkop-plaas in die omgewing.
Lees ook: Vrou oorleef val van etlike meters in onwettige mynskag
“Die een kind se ouma het hulle gestuur om beeste in die veld op te pas. Toe hulle egter teen 16:00 Sondag nie terug was by die huis nie, het sy bekommerd geraak,” het Joey vertel. Hulle is as vermis by die polisie aangemeld.
Lede van die plaaslike berede- en honde-eenhede het na die kinders gesoek, maar sonder sukses. Twee hopies kinderkleertjies op die oewer van die dam het egter die ondersoek in ‘n nuwe rigting gelei. Potgieter-hulle is Dinsdag na die toneel om die dam te deursoek vir die kinders. “Die water was maar middellyf-diepte, maar te diep vir die kinders. Dis só hartseer,” het Joey beduie.
Sy het die lykies van Philea Sande en Sizwe Maseko naby mekaar gekry en hulle is na die oewer geneem.









