Hard newsNews

Gesin se besittings gaan in vlamme op by Cairn

Reynér Swart, sy vrou en twee kleuters het alles verloor toe hulle huis Sondag afgebrand het.

MBOMBELA – Ouers met twee klein kinders het Sondagoggend alles in hulle huis verloor toe daar vroegoggend ‘n brand uitgebreek het.

Mnr. Raynér Swart (34), sy lewensmaat me. Charlene Jansen van Rensburg (23) en hulle twee kleuters, Charné (3) en Ryan (2) kon gelukkig ongedeerd uit die vlamme ontsnap. Swart is egter werkloos en bykans al hulle besittings is in puin gelê toe die houthuisie waarin hulle gebly het, vlam gevat het.

Swart het aan Laevelder gesê hulle het Saterdagaand laat gaan slaap nadat hulle rolprente op ‘n skootrekenaar gekyk het. Hy het omstreeks 07:20 ‘n draai geloop en teruggeklim in die bed en speletjies op sy selfoon gespeel. Sowat 10 minute later het Janse van Rensburg gesê sy ruik plastiek wat brand.

“Toe ek opkyk, toe is daar swart rook en vlamme in die woonkamer.

“Ek het vir haar geskree om die kinders te kry, want die vuur was tussen die voordeur en hulle kamer. Ek kon nie die voordeursleutels vind nie en het die deur probeer oopskop. Die huis was pikswart met rook.

“Ons het die kombuisvenster gebreek en die kinders se koppe daardeur gedruk sodat hulle kan asem kry. Ek het toe die voordeur met my skouer oopgebreek. Toe Charlene die deur hoor breek, het sy met die kinders buitentoe gehardloop.”

Die gesinsmotor en Janse van Rensburg se pa se voertuig was digby die huis geparkeer. Swart het die sleutels in die huis gaan soek en hoewel hy een stel kon kry, het hy dit weer in die chaos verloor. Hy het uit die huis gevlug net voor die struktuur inmekaar geval het.

Sy buurman het die een motor help wegsleep, terwyl hy sy eie se venster gebreek en met die handrem af dit weg van die vlamme kon beweeg, het Swart vertel.

Al wat die gesin oor het is sy gereedskap wat hy uit ‘n nabygeleë stoorkamertjie kon red, sy kinders se skop- en trapfietsies en hulle speelgoedrame wat buite was.

“As ons meer goed uit die huis probeer red het, sou ons saam verbrand het.”

Hy is selfs sonder skoene gelaat. Die eienaar van die huis, me. Rika de Bruyn, het hulle te hulp gesnel. Sy het hom van ‘n selfoon en stelle klere, doeke en toiletware voorsien en Idios Toevlug in Witrivier het die gesin Sondag ‘n heenkome gebied.

Danksy plasings op Facebook en WhatsApp, het De Bruyn ook teen gisteroggend R12 000 onder haar vriende vir hulle ingesamel. Plaaslike mense het ook klere geskenk, en selfs die provinsie se rampbestuurafdeling het komberse kom aflaai.

Buiten die onversekerde meubels wat hulle verloor het, ly Janse van Rensburg aan ernstige skok. Sy praat al sedert Sondag nie ‘n woord nie. Swart soek al geruime tyd naarstigtelik werk en is ‘n meganiese werktuigkundige met 15 jaar se ondervinding.

Hy is baie dankbaar vir almal se hulp. “Ten minste is my vrou en kinders fine. Ons moet nou net ‘n dak oor ons koppe kry.”

Waarnemende brandweerhoof mnr. Johan von Weidts kon teen druktyd nie sê hoe die brand ontstaan het nie.

Om te help, kontak De Bruyn by 083-395-4747 of Swart by 078-306-6603.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button