Hard newsLocal newsNewsNews

Plaaslike filmvervaardiger by Silwerskermfees bekroon

Stiaan Smith, oud-leerling van Laerskool Laeveld en Hoërskool Bergvlam, het groot opslae by die kykNET Silwerskermfees gemaak.

MBOMBELA – Die Laeveld kan trots wees op Stiaan Smith, ‘n voormalige leerling van Hoërskool Bergvlam, wat verlede maand vir die beste draaiboek by die kykNET Silwerskermfees, bekroon is.

Die fees het van 26 tot 29 Augustus in Kampsbaai plaasgevind.

Smith se kortfilm Beurtkrag wys hoe ‘n verhouding deur struikelblokke beweeg terwyl die paartjie sonder krag sit. Hulle verhouding kom teen nuwe beproewinge te staan wanneer hulle in die donker met nét mekaar gekonfronteer word.

Dié draaiboekskrywer vertolk self die rol van Jasper en Lilani Prinsen speel Fransie.

Stiaan Smith en Lilani Prinsen op die stel van Beurtkrag.
Stiaan Smith en Lilani Prinsen op die stel van Beurtkrag.

“My medevervaardiger, Tina Kruger, het my vertel van haar broer en sy meisie wat besef het hoe lief hulle mekaar werklik het wanneer hulle aandag nie deur elektroniese toestelle afgelei word nie,” het hy aan Laevelder vertel. “Ons het van die idee van beurtkrag gehou en die teks maar net ‘n bietjie meer dramaties gemaak deur meer konflik in te bring.”

Een van die vereistes van die Silwerskermfees, is dat die films nie langer as 23 minute mag wees nie. Hierdie, sê Smith, is ‘n voorwaarde wat sy eie uitdagings gebied het.

Alhoewel die tydsbeperking self ‘n groot uitdaging was, was dit ‘n wonderlike leerskool. Dit was soos ‘n toetslopie vir die langer formaat, maar soms was dit moeilik om die volle boodskap van ‘n film in só ‘n kort tyd oor te dra.

Smith sê dié toekenning het hom onkant gevang. “Dit was ‘n baie groot verrassing. Dit was maar net ‘n projek en alhoewel ons baie van die teks van die begin af gehou het, het ons nie verwag dit sou hierdie prys by die fees ingepalm het nie.”

Smith is volgende in Vir Altyd, met Donnalee Roberts en Ivan Botha, te sien. Die film word landswyd in teaters in Februarie 2016 uitgereik.

Klik hier om die lokprent van Beurtkrag te sien.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button