Hard newsLocal newsNewsNews

Bekende karwag help om boef in middestad vas te trek

Oosthuizen het gelag oor waar die man besluit het om weg te kruip. "Ek weet nie hoe mooi hy daaroor gedink het nie."

MBOMBELA – Nóg ‘n misdadiger is deur ‘n staatmaker-karwag platgetrek nadat eersgenoemde Donderdag glo ‘n skootrekenaar wou steel.

Dié keer is die verdagte in ‘n brandweerwa vasgetrek. Mnr. Leon Oosthuizen, ‘n karwag in die parkeerarea van Jock Pub & Grill, word vir sy toegewydheid geprys nadat hy ‘n man agternagesit en agter tralies laat beland het.

“Die man het baie rustig uit Property.CoZa se kantore geloop gekom. Hy het sakkies in sy hande gehad so ek het niks vreemd verwag nie,” het Oosthuizen aan Laevelder vertel. “Eers toe die vrou van Property.CoZa uitgehardloop kom en skree dat ek die man moet stop, het ek besef hy moes iets gesteel het.

Hy het die skootrekenaar heel skaflik op ‘n muurtjie neergesit, vinnig teruggekyk en toe begin hardloop.

Oosthuizen vertel dat die vermeende dief in die rigting van die Metodiste Kerk gehardloop het, deur ‘n leë erf en oor ‘n muur gespring het.

 

“Ek is toe saam met hom oor die muur. Aan die ander kant gekom, sien ek die man het sy hemp uitgetrek – seker om homself te vermom of om my te bluf – maar ek het gesien wat aangaan. Hy het toe twee bakstene opgetel om my te slaan, maar ek was ‘n bietjie vinniger as dit en kon die houe darem keer.”

Die verdagte het weer die hasepad gekies en oor ‘n muur na die brandweerstasie gespring.

Dit was sy laaste verkeerde besluit. Ek en ‘n jongman wat saam met my gehardloop het, het dit gesien.

Tussen al die aksie deur, het ‘n lid van die publiek vir Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit ontbied. Die wagte het vir Oosthuizen met sy jaagtog gehelp, maar het sig van die verdagte verloor toe hy oor die brandweer se muur gespring het.

Leon Ooshuizen wys waar die verdagte die skootrekenaar gelos het en oor die pad, in die rigting van die brandweerstasie, gehardloop.
Leon Ooshuizen wys waar die verdagte die skootrekenaar gelos het en oor die pad, in die rigting van die brandweerstasie, gehardloop.

Volgens mnr. Nico Grobler, operasionele bestuurder van Hi-Tech, het die span eers die perseel omsingel om die man weer op te spoor. “Iemand het vir ons gesê ons moet in die brandweerwaens, wat buite gestaan het om gewas te word, kyk. Sowaar, toe ons die deur oopmaak, sit die man voor in die brandweerwa.”

Oosthuizen het gelag oor waar die man besluit het om weg te kruip. “Ek weet nie hoe mooi hy daaroor gedink het nie.”

Hi-Tech het die verdagte na Mbombela SAPS toe geneem en hy is in hegtenis geneem.

Teen druktyd was die dossier nog by die hof. Kapt. Charles Bezuidenhout, Mbombela SAPD se woordvoerder, kon egter bevestig dat die man in hegtenis geneem is en op 7 September in die hof verskyn het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button