Wysigings aan die Wet op Seksuele Misdrywe is hierdie week bekragtig wat behels dat kinders tussen die ouderdomme van 12 en 15 jaar nou wettiglik met mekaar seks mag hê.
Die aanloop tot die wysiging is al sedert Oktober 2013 in die kollig. Regter Pierre Rabie het destyds in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria beslis dat twee artikels van die Strafregwysigingswet nie grondwetlik was nie. Artikels 15 en 56(2)(b) het seksuele penetrasie tussen twee kinders (tussen 12 en 16) wat beide daartoe toestem, as onwettig bestempel.
Nadat dié artikels as ongrondwetlik verklaar en geskrap is, was die wetgewer daarmee gemoeid om die Wet op Seksuele Misdrywe te wysig.
In terme van die ou wet, sou enigeen wat seks met iemand jonger as 16 gehad het, aan statutêre verkragting skuldig gewees het. Die wysigingswet bepaal nou dat, waar twee partye toestem tot seksuele omgang, verkragting slegs ter sprake sal wees wanneer iemand ouer as 16 seks het met ‘n kind van 15 of jonger, selfs al geskied dit met die kind se toestemming.
- Die ou wet
Alhoewel hierdie wetswysiging deur baie as “te liberaal” beskryf word en wye kritiek ontlok, was die wet eintlik nie voorheen toepasbaar nie en het dit maatskaplike werkers, die polisie en die Suid-Afrikaanse regstelsel se taak net bemoeilik.
Dr. Sufran Smith, ‘n senior lektor in forensiese maatskaplike werk aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, het met Laevelder hieroor gesels. Sy het verduidelik dat volgens die vorige wetgewing, selfs vry of net hande-vashou tussen tieners onder die ouderdom van 16 jaar teen die wet was en dat sy as maatskaplike werker verplig was om dit by die polisie aan te meld. “Selfs al was hierdie onthullings gemaak tydens ‘n vertroulike gesprek. Die effek hiervan op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ons land se regstelsel was vanselfsprekend. Ons sou ons hele dag daaraan moes wy om tipiese tienergedrag aan te meld.”
Die ou wet het dus in elk geval nie tieners gekeer om seks te hê nie.
Smith het na die hoë syfer van swangerskappe onder kinders jonger as 16 verwys om haar standpunt te illustreer dat die strenger wetgewing seks tussen 12 tot 16 jariges in elk geval nie verhoed het nie. “Geen wet gaan kinders keer om seksueel aktief te wees nie. In terme van nuwe wetgewing, hoef dit bloot net nie by die polisie aangemeld te word nie.”
Dr. Roelf Reyneke, hoof van die departement van maatskaplike werk aan die Universiteit van die Vrystaat, sê ook dat statistiek bewys dat strenger wetgewing nie ‘n daling in tienerswangerskappe tot gevolg gehad het nie. Hy beveel aan dat ouers en onderwysers jongmense eerder inlig oor die gevare van seksueel aktief wees en hulle motiveer om hul gedrag te verander.
- As die wet tandeloos is, wat kan ek as ouer doen?
Smith glo dat geen skoolkind emosioneel of kognitief gereed is om toestemming tot seks te gee nie, hoewel hulle dit doen. Sy beklemtoon dat dit ouers se verantwoordelikheid is om kinders deeglik oor seks en die gevare daarvan in te lig. “Hierdie verantwoordelikheid wat op ouers se skouers rus, word net al hoe groter en meer omvangryk.”
- Oop kommunikasie en deeglike opvoeding
Volgens Smith moet kinders deeglik ingelig word oor die gevare verbonde aan seks en veral onbeskermde seks. “Bespreek dit reeds van ‘n vroeë ouderdom af met hulle. Ouers moenie ontken dat hulle kinders seksuele behoeftes het en dink hulle kinders sal dit nie probeer aanspreek nie. Bespreek voorbehoeding met jou kind. Dit maak dit nie vir hulle makliker om seksueel aktief te wees as hulle ingelig is nie.
“Tieners glo dikwels slegte goed sal nie met hulle gebeur nie, net met ander. Hulle glo hulle is onaantasbaar. ‘Hulle kan maar motorfiets ry sonder ‘n valhelm, hulle sal nie val nie’. Hulle moet besef dat hulle dade ongewenste gevolge kan hê.” Smith het benadruk dat ouers nie net teen swangerskap moet waarsku nie. “Seksueel-oordragbare infeksies kan nie met die pil voorkom word nie. Hulle moet deeglik bewus wees van die verskillende tipes seksueel oordraagbare infeksies en dat slegs die gebruik van kondome dit kan voorkom.
Van die gevare verbonde aan onbeskermde seks
• MIV: Die menslike immuniteits-gebreksvirus is die derde grootste doodsoorsaak in Suid-Afrika.
• Geslagsiektes en hepatitis B en C.
• Sielkundige en emosionele trauma verbonde aan betrokkenheid by seksuele dade waarvoor die kind nog nie kognitief gereed is nie.
• Swangerskap, veral waar die kind nog nie gereed is daarvoor nie.
• Die ekonomiese en sosiale gevolge van so ‘n swangerskap.
