
Kinders speel nie meer in die West Acres-parkie nie. Inwoners wat in die omgewing van die speelplek in Wilgerstraat woon, sê hulle voel nie gemaklik daarmee nie, omdat dit al vir verskeie maande in so ‘n swak toestand is.
‘n Inwoner me. Ria Gouws, sê, “Toe ons 23 jaar gelede daar ingetrek het was dit ‘n paradys.
“Ons kinders het hul dae om gespeel in die park.” Haar man, mnr. Neels Gouws, sê egter tye het verander. “Op die oomblik is dit ‘n vuil gemors.”
Buiten vullis wat rondgestrooi lê, parkeer mense daar om te drink. Met ‘n besoek van Nelspruit Post aan die parkie tydens skoolure, het drie seuns in hul skoolklere daar rondgehang, voor hulle spoedig weer vertrek het. Bourommel lê ook die wêreld vol.
Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit het egter sowat ‘n maand gelede vyf werkers aangestel om die parkie op te ruim.
Mnr. Amos Samoyi Zitha sê hy werk al sedert 1978 vir die munisipaliteit. Hy verduidelik dat hulle aangestel is om die bosse skoon te maak, sodat kriminele elemente nie daar weg kan kruip nie. Sy kollegas is in Junie onder Mbombela se uitgebreide openbare werkeprogram aangestel.
Me. Margaret Mkhonto sê hulle werk weeksdae vanaf 08:00 tot 15:30 en verdien sowat R2 000 per maand om die parkie op te ruim.
Inwoners wil egter weet wat aangaan.
Gouws sê natuurlik moet mense werk, maar dit word sonder toesig gedoen,” sê hy.
“Hulle kap alles af en laat dit net daar lê. Hulle benodig toesig. Hulle saag bome af, maar geen boom is gemerk om aan te dui wat moet afgekap word, al dan nie. Van die vyf, is daar op enige gegewe tyd nie meer as twee wat aktief werk nie.”
Mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir die munisipaliteit, het nie op navrae gereageer oor wie vir die toesig oor die skoonmaak verantwoordelik is of wie die rommel moet verwyder nie.
- Lees hier meer oor ‘n ander parkie in West Acres en die parkie in Ferreirastraat.





