Hard newsNewsNews

Man kritiek ná bye hom takel

Toe ek by die hospitaal stop, het my pa se hart gaan staan. Toe sê die tannie (Du Plooy) hy haal nie meer asem nie. Dit het 12 minute gevat om hom by te bring

MBOMBELA – ‘n Man is in ‘n kritieke toestand in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgeenheid nadat hy Woensdagaand deur ‘n swerm bye getakel is toe hy gaan draf het.

Mnr. Gert van der Merwe (41) is dodelik allergies vir bye en sy hart het, na wat verneem word, vir sowat 12 minute gaan staan nadat hy net voor 19:00 deur die insekte aangeval is. Sy seun, ook Gert (19), is ‘n matriekleerling van Hoërskool Nelspruit en word in die hoësorgeenheid van dieselfde hospitaal behandel. Daar is sowat 40 angels net uit sy gesig na die voorval getrek.

Gert jr. het vanuit sy hospitaalbed telefonies met Laevelder gesels. Hy het vertel dat hy, sy pa, dié se vriendin, me. Juanita du Plooy en sy jonger boetie, Jaco, op ‘n plaaspaadjie op Friedenheim Landgoedere gaan draf het. Hulle is reeds sowat 19 jaar op dié plaas woonagtig.

Hy het vertel dat daar bye op die plaas vir die bestuiwing van makadamiabome aangehou word. “Ons het onlangs begin draf. Ons ry gereeld met motorfietse op die betrokke pad en was bewus van die insekte. Hulle word in houtkorwe op die grond aangehou en het ons nog nooit gepla nie.”

Hy het bygevoeg dat plaaswerkers glo vroeër dié dag met die bye gewerk het, maar dat hulle nie daarvan geweet het nie. “Ek, my pa en die tannie (Du Plooy) het gedraf toe die bye ons net skielik begin steek het. Ek is oral gesteek. Op my kop, my arms, bene…” Hulle het in ‘n nabygeleë kanaal gespring, maar die woedende bye het bo-oor die water bly vlieg.

Gert jr. het later uit die water geklim en die sowat 300 meter terug na die huis gehardloop. Hy moes oor ‘n draad klim om nie weer dieselfde pad te gebruik nie. Die huis se sleutel was egter by sy pa en hy is met ‘n motorfiets na die plaaseienaar se huis om die spaarsleutels te kry. Hy het intussen op Jaco, wat op ‘n ander pad gedraf het, afgekom en hom teen die bye gewaarsku.

Terug by die huis het hy sy pa se asmapompie en ‘n spuit vir bysteke gegryp en is terug na die toneel. Du Plooy het hom ingespuit en Gert jr. het met hulle na Mediclinic Nelspruit gejaag. “My pa het nog gesê ek moet net nie die bakkie rol nie.” Hy is ook allergies vir bye en pa en seun het geweldig gesukkel om asem te haal.

“Toe ek by die hospitaal stop, het my pa se hart gaan staan. Toe sê die tannie (Du Plooy) hy haal nie meer asem nie. Dit het 12 minute gevat om hom by te bring,” het Gert jr. vertel. “My pa het nog nie wakker geword nie en is op masjiene.”

Du Plooy word in ‘n gewone saal in die hospitaal behandel. Gert jr. sal na verwagting vandag (Vrydag) ontslaan word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button