
So dis Donderdag en saktyd hier by die koerant. In ons kantoor gaan dit wild. Ons publiseer ‘n rits publikasies, wat beteken dat daar elke dag iemand op saktyd is.
Dit gaan met spanning gepaard.
As jy die lewe liefhet, stel ek voor dat jy geen joernalis op saktyd met onbenullighede steur nie.
Wie is keer op keer braaf genoeg om dit aan te vang?
Hier’s iets wat sy klaarblyklik nie weet nie:
So was dit weer vanoggend. En gister. En Dinsdag en Maandag.
“Goeiedag, is dit me. Eloff wat praat? Dis Fiena hier by Kampioen linkerknieversekering. Mag ek jou gou steur?”
“Nee.”
“Ons bied ‘n reeks versekering vir verskeie soorte patellas…”
Of ek nou lus was vir haar of nie, ou Fiena het moedig aangehou gesels. Sy het my daarop gewys dat die oproep vir kwaliteitsdoeleindes opgeneem word en ek het besluit om haar nie te vloek nie.
Björn was volgende. Ek het uitdruklik gesê dat hy nie ‘n paar minute van my tyd kon gebruik nie. Hy het sekondes gehad om sy sê te sê. Ek het ‘n bietjie gegiggel toe Björn sy rympie teen rekordspoed aan my voorhou. Hy het dink dat ek ‘n kredietkaart wou hê.
Hierna het ek besluit om telebemarkers toe te laat om met hul relase aan te gaan en dan my selfoon onder my stoel te bêre terwyl hulle rustige monoloë voer. Dit het hulle nie afgesit nie.
Ek het nóg ‘n telebemarker kortgeknip: “Ja, dis me. Eloff se selfoon, maar sy het sopas morsdood neergeval. Ek gaan die selfoon nou neersit, sodat ek die ambulans kan bel.” In plaas van om aan te bied om dit van sy kant af te doen en me. Eloff se lewe te help red, het Jacques ongemaklik gegiggel en gevra of ek in lewensversekering belang stel.
Die stomme siel wat my vanoggend gebel het, het nie die kans gekry om homself voor te stel nie, want ek het hom doodgepraat. “Los my uit. Jy irriteer my. Nee, wag. Jy irriteer almal. Praat met die irriterende ou in die telefoonhokkie langs jou.”
Ek wonder of ek skuldig bevind sal word aan moord as ek een van hulle se monde permanent sou snoer? Hierdie gelastigvallery moet op uitlokking neerkom.




