Local newsNews

Rondomtalie nie al wat naar maak by parkies

Die betontafeltjie se blad het voete gekry en die paaltjiesheining lê oor die duwweltjie-grasperk besaai.

MBOMBELA – Die meeste ouer inwoners koester goeie herinneringe van dorpe se parkies – van speel tot die straatligte aankom, rondomtalie draai tot jy dronk in die kop is en dalk selfs ‘n eerste soen.

Maar deesdae is parkies verbode terrein vir kinders en plaaslike ouers wil nie sommer hulle kinders daar toelaat nie.

Na ‘n algemene geselsie op sosiale media het dit vining duidelik geword dat ouers byna geen hoop het vir die dorp se parkies nie. Me. Zelda Prinsloo Barnard se kommentaar lui: “Misdaad is aan die orde van die dag in ons land. Jammerte dat ons kinders nooit daai voorreg sal hê wat ons as kinders gehad het nie…”

Me. Jacolize Burger meen dat die slegste van dié spul die een oorkant Pennystraat is. Sy vertel dat daar al vir maande ‘n boemelaar in die toilet woon en dat die lantana blykbaar besig is om die wipplank oor te neem. Daar was ook onlangs opgrawings gedoen om waterpype te vervang en ná die werk is daar geen moeite gedoen om die ontwortelde swaaie weer te plant nie.

Laevelder het self ondersoek gaan instel en ‘n draai gaan maak op die hoek van Goldenrylaan en Parkstraat. Die parkie is klein en half versteek in suburbia, ver van besige deurpaaie. Maar die prentjie is inderdaad so droewig as wat Jacolize beskryf het. Die vullisdromme loop oor en die drankbottels wat nie die drom gehaal het nie, lê in skerwe op die grond. Die betontafeltjie se blad het voete gekry en die paaltjiesheining lê oor die duwweltjie-grasperk besaai. Dit is duidelik dat hier lanklaas ‘n kind was.

Een van die inwoners van Goldenrylaan, wat verkies om anoniem te bly, skud maar net die kop. Die parkie is vir hulle ‘n groot kopseer. Haar man probeer soms vroeg op ‘n Saterdagoggend om die boskasie te tem, maar word spoedig onderbreek deur partytjiegangers wat met harde musiek en harder drank daar opdaag om rond te lê en rommel te strooi.

Me. Marina Botha skryf op Facebook dat die Spur se speelarea nou die plek van ‘n buitelugparkie inneem. “Sad but true,” sê sy. Laevelder het by Mbombela Munisipaliteit aangeklop om uit te vind hoe die parkies in stand gehou moet word en wat inwoners kan doen as hulle sien dat die geriewe vir die verkeerde doel aangewend word.

Volgens me. Bessie Pienaar, kommunikasiebeampte van Mbombela, is dit baie moeilik om die 66 parkies binne die streek te onderhou. Vandalisme, diefstal en ‘n tekort aan befondsing word aangevoer as die redes hiervoor. Sy sê ook dat daar tans geen dorpswette bestaan wat gedrag in parkies voorskryf nie en dat lede van die publiek die polisie in kennis moet stel wanneer alkohol in openbare gebiede gebruik word.

Op haar beurt vertel Me. Melinda Hills dat hulle sake in eie hande geneem het. Hulle het hul eie parkie langs hulle huis opgerig waar die buurt se kinders kan kom speel. Parkie-nostalgie sal nog lank in ons herinneringe rondomtalie draai, maar dalk is dit tyd dat ons van die duwweltjies uittrek en self groener weivelde begin saai.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button