Hard newsNewsNews

Vrou wat van balkon val, ‘n elfde keer onder die mes

"Dis net operasies. Sy moes onlangs in die hospitaal wees vir die dreinering van serebrospinale vloeistof en nou is dit die knie. Haar voet sal hierna geopereer word" - me. Celia Potgieter

MBOMBELA – Me. Amanda Joubert (24) is Maandagmiddag vir die elfde keer in 18 maande in Mediclinic Nelspruit se teater ingestoot. Alhoewel sy wonderbaarlik herstel het ná ‘n val van etlike meter in Februarie 2014, word sy tog soms moedeloos wanneer die hospitaalbesoeke en operasies lyk asof dit nooit gaan ophou nie.

Joubert het op 16 Februarie 2014 van Victor Wilkens se balkon by Hillside Manor afgeval. Sy het verskeie frakture en breinbeserings opgedoen en eers 17 dae ná die voorval uit ‘n koma ontwaak. Twee maande in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorgafdeling en nog twee maande in ‘n rehabilitasiesentrum het gevolg voordat sy tuis kon aansterk.

Joubert spent two months in a rehabilitation centre.
Joubert was vir twee maande in ‘n rehabilitasiesentrum.  (Foto: Facebook).

Haar ma, me. Celia Potgieter, sien na haar om en was gisteroggend aan haar sy voor die operasie. Potgieter het aan Laevelder vertel dat die beserings waarmee haar dogter ná die ongeluk sukkel, vir haar ‘n groot struikelblok is. Haar konsentrasievermoë is erg aangetas en sy sukkel met haar kort- en mediumtermyngeheue. Die probleem wat gister se operasie genoodsaak het, het met haar linkerheup, been en voet te doen wat sedert die val moeilik beweeg. Omdat haar linkerbeen effens sleep, het haar knieskyf vir ‘n lang tyd op ‘n onnatuurlike manier beweeg. Die kraakbeen het sodoende begin versplinter.

“Dis net operasies. Sy moes onlangs in die hospitaal wees vir die dreinering van serebrospinale vloeistof en nou is dit die knie. Haar voet sal hierna geopereer word,” het Potgieter gesê. Sommige dae is vir Joubert, wat soms moedeloos, emosioneel en depressief voel, moeiliker as ander. “Ons pak elke dag op sy eie aan.”

Een hoofstuk van die beproewing waardeur hulle gesin die afgelope jaar en ‘n half worstel, is onlangs opsygeskuif. Dit is die strafsaak teen Wilkens, wat na die voorval van poging tot moord aangekla is. “Die saak is tydelik teruggetrek,” het Potgieter bevestig. “Amanda is nog nie emosioneel sterk genoeg om die getuiebank te betree nie. Sy is wel aan’t verbeter en as sy oor twee jaar gereed is om te getuig oor wat daardie aand gebeur het, sal ons die saak weer aanhangig maak.”

 

Só lyk me. Amanda Joubert vandag.
Só lyk me. Amanda Joubert vandag. (Foto: Facebook)

Die gesin het hierdie besluit nie ligtelik geneem nie. “As Amanda sou getuig en emosioneel verbrokkel het te midde die verhoor, sou dit dalk kon lei tot Wilkens se ontslag. Noudat die saak teruggetrek is, kan ons wag totdat sy sterker is, wat daardie risiko verklein.”

Intussen fokus hulle op Joubert se gesondheid. Dit is vir hulle die belangrikste.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button