Brouery se eerste mark eindig op ‘n hoë noot
Hops Hollow is natuurlik bekend vir sy eie bier wat self gebrou word en diegene wat lus was vir ietsie sterker as koeldrank, kon natuurlik hul kele met dié tuisgemaakte laafnis natmaak.
LYDENBURG – Hops Hollow het verlede Saterdag sy eerste plaasmark gehou.
Tydens die dag was varsgebakte brood, hamburgers, koeldrank en tuisgemaakte geskenke te koop.
Hops Hollow is natuurlik bekend vir sy eie bier wat self gebrou word en diegene wat lus was vir ietsie sterker as koeldrank, kon natuurlik hul kele met dié tuisgemaakte laafnis natmaak.
Na afloop van die mark en die wêreldbekerrugbywedstryd wat op grootskerm vertoon is, het Kevin Leo Saterdagaand ‘n draai kom maak en mense met sy besondere stem betower.
Leo is ‘n bekende en geliefde Suid-Afrikaanse sanger van opera- en ligte Afrikaanse musiek. Hy tree ook gereeld saam met Jakkie Louw onder die verhoognaam, Jakkals en Leo op, en saam met Mathys Roets en Danie Niehaus as Drie van die Bestes. Hy is bekend vir treffers soos “Se C’est la vie”, “Ek sal jou nooit vergeet” en “Liewe broer”.
Leo het in Junie 2006 aan die internasionale operakompetisie, Valsesia Musica naby Milaan, Italië deelgeneem en die vierde plek behaal.
Tydens die wennerskonsert is Leo as Pavarotti Pocco of Klein Pavarotti voorgestel.



