LifestyleLocal newsNewsNewsPeople

‘n Pionierboer uit die Onderberg onthou…

Met die oorskakeling van groente na suikerriet, was daar vir agtien maande geen inkomste nie

In ‘n boek oor Marlothpark se eerste 25 jaar wat in 2003 verskyn het, is daar ‘n mooi hoofstuk oor die moeilike beginjare van die landboubedrywighede in die Onderberg.

Die boek is geskryf en saamgestel deur Jacques en Rena de Villiers. Dit is tans uit druk uit en ‘n gesogte versamelstuk vir mense met ‘n belangstelling in die geskiedenis van die Onderberg en Marlothpark.

Piet Maritz het reeds lank voor die bosoord sy bestaan gekry het, op die naburige plaas, Verdwaal, geboer. Hier het hy pioniersjare beleef maar mettertyd ‘n spogplaas opgebou. Hy moes dit egter later weer verlaat as gevolg van ‘n suksesvolle grondeis. In die boek noem hy die hoofstuk wat daaroor handel, “Verdwaal se Storie”

Hier is ‘n aanhaling

Op 3 September 1952 het ons met ‘n blou Fordson-trekker, dié wat op petrol/paraffien loop, en ‘n sleepwa op die pad tussen Nelspruit en Lourenco Marques (naby vandag se N4-deurpad) aangesukkel en by die Tenboschstasie na die plaas met dieselfde naam afgedraai, wat die Staat besig was om in kleiner plase op te deel.

Moedig het ek die klein ruwe grondpaadjies aangedurf. Die swartmense het hierdie pad gebruik om hulle water uit die rivier met ‘n slee te vervoer. Die pad moes met ‘n byl deur die bos oopgekap word en na ‘n lang en uiters vermoeiende dag, het ons die plek waar die huis van Verdwaal vandag staan, laataand bereik. Die naam “Verdwaal” het ontstaan toe die landmeters, wat opmetings al langs die rivier gedoen het, rigting verloor het. Met hulle terugkeer het hulle so verdwaal dat hulle eers laat die nag hulle bakkie opgespoor het.

Ons was eindelik by ons bestemming. Dis nou ek wat Piet Martiz is en my broer Hendrik. Op die sleepwa was al ons besittings, asook vier agt-voetlange sinkplate en ‘n paar 2×3 latte vir ons sinkhuisie.

Daar was sewe landmeters onder leiding van Louis van Bergen wat die plase opgemeet het. Die plase was in 800 tot 1 000 morge elk opgedeel, en daar was ook drie plase van 500 morge elk.

My broer het na ‘n maand teruggegaan om ons vader op die plaas Eerstegeluk, wat naby Uitkyk in die berge by Nelspruit lê, te gaan help met die boerdery en die bestuur van die skoolbus. Vir omtrent ‘n jaar lank was ek die enigste boer in die omgewing. Die ander boere het hulle stuksgewys hier kom vestig en na vyf jaar was Hendrik ook terug.

Ek was pas getroud en ons drie het die taaie stryd saam aangepak op ‘n plaas met geen geriewe nie. Daar was geen paaie nie. Die bosse was swart afgebrand. Toe ons hier aangekom het, was dit Landboukredietgrond, wat ook as Kroongrond bekend gestaan het. Die grond is oorspronklik van die Staat gehuur met die opsie om die kontrak vir ‘n verdere termyn van vyf jaar te verleng.

Die grootste probleem was om te weet met watter produk om te boer. Daar is aanbeveel dat daar met beeste geboer word, maar ons het baie

gou ons fout uitgevind. Ek het 123 beeste van my pa se plaas laat kom en na drie maande was daar net sewentien oor. Die ander het almal gevrek aan korridorsiekte (buffelsiekte). Omdat die plaas aan die wildtuin gegrens het, was daar baie streng wette in verband met bek-en-klouseer en was bemarking aan groot hindernisse onderhewig.

Ek het maar so spoedig moontlik begin ontbos om groente in die winter vir die Johannesburgse mark te lewer. Die landerye moes langs die rivier gemaak word, aangesien die winters uiters droog was. Die rivierwater was tot bo-op die wal van die rivier uitgepomp en vandaar het ons die groente met ‘n kontoervoor natgelei.

Die diere van die wildtuin het natuurlik baie dikwels in troppe van etlike honderde oor die oop grens van die wildtuin gekom en die lande verwoes. Die boere was genoodsaak om snags patrollies te beman om hulle landerye te beskerm. Toe die bek-en-klouseer in 1958 in die wildtuin uitgebreek het, is die Snymansheining uiteindelik in opdrag van Regter Snyman opgesit na vele onderhandelinge tussen die boere, Veeartseny en die wildtuin. Die gedeelte tot aan die treinspoor is tot rooi gebied verklaar, waarbinne streng kwarantynmaatreëls gegeld het. Tussen die treinspoor en die hoofpad is die tweede gebied verklaar, waar ‘n kraal opgerig is vir die observasie van vee voordat hulle in verseëlde trokke na die mark vervoer kon word.

In 1965 is daar met Eskom onderhandel en na vyftien jaar het die eerste elektriese heining tot stand gekom. My plase het gedien as proefplase en daarna het ander plase gevolg.

Dit was moeilik om arbeid te bekom en ek het elke seisoen slegs die wins van die vorige oes gehad om mee te boer, want ek kon geen lening kry nie. Nogtans kon ek my groenteboerdery elke jaar ‘n bietjie uitbrei. Verder was die mark in Johannesburg 400 kilometer ver en was daar geen laai-geriewe op Tenboschstasie nie. Dit het ‘n hele oggend in beslag geneem om die groente oor die amper onbegaanbare paadjie te vervoer. Die trein het eenuur die middag vertrek en as die groente nie gelaai was nie, was dit jou probleem.

In 1965 is die eerste suikerlande in die Laeveld aangeplant. Die boere van Tenbosch, Strydomblok en Lebombovlakte het daarin geslaag om deur middel van die Huurdersvereniging die grond wat hulle tot in daardie stadium gehuur het, van die Staat te koop. So is ‘n voorvereiste vir Transvaalse Suikerboere (TSB) om die risiko aan te gaan om ‘n meul op te rig, nagekom en het dit toe ook gebeur, ten spyte van die Natalse suikerboere, wat seker die omvang van die mark onderskat het, se heftige teenstand teen so ‘n stap.

Dit was die tweede verwisseling van boerdery. Met die oorskakeling van groente na suikerriet, was daar vir agtien maande geen inkomste nie. Die saad moes van Swaziland gekoop en aangery word. Omdat die maal van die suikerriet ook baie groeipyne gehad het en die finansiële druk nog erger geraak het, het party boere hulle tot sitrusboerdery gewend en vandag is dit ‘n gevestigde landbou-aktiwiteit.

In die begin het die boere baie gebruik gemaak van die voorligting van Derek Coetzee en later van Fourie Kritzinger, asook van die Nelspruitse Subtropiese Navorsingstasie om die vele peste en plae te identifiseer en te beveg. Tamaties was veral baie vatbaar vir bakteriese verwelking. Die grond langs die rivier was ook baie vlak en klipperig. Gou-gou was die rivier nie sterk genoeg vir al die besproeiing nie en so het die Braam Raubenheimerdam tot stand gekom.Later is verskillende rade gekies om watersake en paaie te bestuur. Die beskerming van die natuur het die hoogste prioriteit geniet. Ongelukkig moes groot dele ontbos word om plek te maak vir landerye. Pakhuise het tot stand gekom en daar is ook met piesangboerdery begin.

Die eerste boere wat hulle op hierdie plase gevestig het, was benewens ek, diegene wat ‘n rol gespeel het toe Marlothpark tot stand gekom het, naamlik Sameul Schmidt, Piet Nortjé, Jan Bekker, Klaas Prinsloo, wat eers die plaas Pan besit het en later Maroela gekoop het, wat deel van die Tucker-aankope sou vorm, Henk van Rooyen en Henri Hepburn, wat Seekoegat later aan John Kymdell verkoop het – ook ‘n Tucker-aankoop – en laastens diegene wat plase in die omgewing van vandag se Marlothpark besit het, onder meer Piet Liebenberg (Martiens), Kosie Badehorst (Steyn), Jan Els (Elsjan), Pikswart (Roosmaryn), Stoffel Stoltz (Die Brug), Vossie Vosloo (Maroela), Gawie van der Walt (Grootdraai), Phillip van der Merwe (Albert), Louis Celliers (Whiskey) en Josua Steyn (Elmboog).

Na vyftig jaar is daar alreeds dertien van die oorspronklike boere oorlede en die ander het tussentyd weggetrek. Net ons is nog op die oorspronklike plaas…

Twaalf jaar na hierdie publikasie leef oom Piet Maritz steeds en woon hy op Komatipoort. Ons hoop om eersdaag ‘n paar foto’s uit sy lewe te bekom en weer hier te plaas.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button