Hard newsLocal newsNewsNews

Reën word eers later verwag

Die WNNR sê 'n sterk El Niño-verskynsel oor die Stille Oseaan is vir die land se huidige weersprobleme verantwoordelik

MALALANE – Die aanduiding is dat dit nie gou in die Onderberg gaan reën nie. Ofskoon die ergste hitte sedert Dinsdag afgeneem het, word daar nog ‘n paar warm dae voorspel voordat daar uiteindelik uitkoms verwag kan word.

Die wind wat Maandag begin waai het, het wel koeler toestande gebring, maar geen reën nie. Sedert Dinsdag was die temperature onder 30°C, ofskoon dit na verwagting teen Saterdag weer na 34 sal klim.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo word moontlike los buie oor die Onderberg eers oor ‘n week voorspel. Damme in die omgewing is tans redelik vol met Driekoppies ongeveer 70% vol.

Die Kwenadam waaruit water sporadies gelaat word om die Krokodilrivier te voed, is tans nog 70% vol. Verbruikers daarvan hoër op in die rivier is vandeesweek ook verbied om verder water te ontrek, omdat dit die kwota van besproeiiers laer af beïnvloed en hulle met te min beskikbare water laat. Volgens persberigte hierdie naweek staar ‘n rampspoedige droogte die land in die gesig.

In Mpumalanga gaan dit egter nog beter met gewasse – en veral besproeiingsgewasse. Dr. Francois Engelbrecht, ‘n klimatoloog en navorser by die WNNR, sê ‘n sterk El Niño-verskynsel oor die Stille Oseaan is vir die land se huidige weersprobleme verantwoordelik. Die toestand veroorsaak uiterste weerstoestande wat óf ‘n oormaat, óf min of geen reën oor streke meebring.

Die minister van water en sanitasie, me. Nomvula Mokonyane het die afgelope naweek op ‘n nuuskonferensie in Johannesburg gesê, boere moenie staatshulp verwag nie. Sy het by ‘n inligtinsessie oor die waterkrisis en droogte gepraat wat besig is om die hele land in ‘n wurggreep te kry. Die regering se prioriteit is nou die

2,7 miljoen gesinne in die land wat min of geen water het nie. Dit is 18% van die bevolking. In Mpumalanga is hierdie gesinne en gemeenskappe meestal in die suide van die gebied nader aan KwaZulu-Natal. Boere moet aanpas en anders begin boer, luidens berigte in Beeld. Besproeingsboere gebruik reeds 60% van die land se water. Dit maak staatsingryping in die landbou onmoontlik, het Mokonyane gesê.

Mnr. Nickie Horn, voorsitter van die Onderberg Boerevereniging sê daar heers reeds groot kommer. Langs die Krokodilrivier is dit reeds ‘n krisis as gevolg van te min water wat stroomaf kom. Met die Komatirivier kan mens veral by die keervalle sien dat daar bykans geen oorloop meer is nie.

Van bo af tot by Furley’s Drift word daar nog water deurgelaat, maar die keerwal by Komatipoort waar die rivier in Mozambiek in loop, laat geen verdere vloei deur nie.

Mnr. Tobie de Beer van Mobile Agri Skills Development and Training, wat opkomende boere by Schoemansdal met ‘n tabakkweek-projek bystaan, het hom twee week gelede al oor die reën wat wegbly, bekommer. Die gedurige natlei maak die proses geweldig arbeidsintensief en het gewis ‘n invloed op die natuurlike ontwikkeling van die tabakplante.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button