MBOMBELA – “Ek het Psalm 23 oor en oor gebid totdat my kleinseun my lewe gered het.” Dít is hoe me. Pinky Strydom (88) die twee dae omgekry het wat sy sonder kos of water, en ernstig beseer, na ‘n gewapende aanval in haar huis deur twee boosdoeners vir dood agtergelaat is.
Sy het dié getuienis Vrydagoggend in die Nelspruit Streekshof gelewer. Sy het haar aanvallers ook tydens dié hofverskyning geidentifiseer. Mnr. Steve Seerane en mnr. Milton Masuku het egter onskuldig gepleit op die verskeie klagtes teen hulle.
Hulle is aangekeer kort nadat Strydom met ‘n byl aangerand, byna verwurg en vir twee dae in ‘n donker kamer in haar Witrivier-woning toegesluit is. Nadat Laevelders vir ‘n jaar gewonder het hóé Strydom só wreedaardig aangeval, vir dood agtergelaat is en oorleef het, het sy Vrydag in die hof vertel wat met haar gebeur het.
Die gewraakte voorval was op 11 Oktober verlede jaar in die huis in John Barkerstraat waar Strydom vir 15 jaar gewoon het. Sy het om 09:00 daardie Saterdag agter haar kar se stuurwiel ingeskuif om dorp toe te ry. ‘n Vreemde man het haar motor se deur oopgeruk. Hy het haar met ‘n byl op die voorkop, wang en regterbeen gekap en uit die motor uit gesleep waarna ‘n tweede onbekende man by hom aangesluit het.
Die twee het Strydom na ‘n binnestoepie toe gesleep en sy is met die byl op haar linkerenkel gekap. Volgens Strydom se getuienis het Seerane haar hierna gewurg. “Ons gesigte was byna teenaan mekaar. Ek het vir hom gekyk en hom gesmeek om my uit te los.” Hy het nie gereageer nie, maar die ander man (Masuku) het met sy hand op sy lippe beduie dat ek moes stilbly,” het sy gesê en die gebaar nagemaak. “Hulle het handdoeke oor my kop gesit en my eie waslap is in my mond gedruk, waarmee hulle my probeer versmoor het.”
Sy is oor die huis se matte gesleep. “Een se hande was om my nek, die ander een het my voete vasgehou en my linkerbobeen het op die mat gesleep – soveelso dat die velle afgeskuur en ek begin bloei het. Hulle het my in die kleinste kamertjie van die huis toegesluit, waar ek nie saans ‘n lig kon aanskakel nie,” het sy gesê.
Strydom het vir twee dae in hierdie klein, donker kamertjie gelê. Alhoewel sy om hulp wou roep, kon sy dit nie doen nie omdat ‘n operasie aan haar skildklier kort voor die aanval, haar vermoë om haar stem te verhef, verswak het.
Strydom se sny- en skaafwonde het aangehou bloei en sy het geen toegang tot kos óf water gehad nie.
“Ek het om die beurt op die vloer en op die bed gelê. Bo alles het ek deurgaans gebid,” het sy getuig.
Psalm 23 het Strydom aan die lewe gehou totdat haar kleinseun, wat nog in die saak moet getuig en nie geïntifiseer mag word nie, haar kom red het.
“Ek weet nie hoe hy dit gedoen het nie, maar ek weet wel dat ek hospitaal toe geneem is, waar my wonde behandel en ek ses dae later ontslaan is. My wonde het ‘n maand later herstel en ek het vir ses maande gesukkel om te loop. Die voorval het ‘n groot emosionele impak op my gehad. Ek was nog nooit weer terug na daardie huis toe nie,” het sy gesê.
Seerane en Masuku bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 18 November.
